Tweede seisoen RSG-Radioteater beloof hope luistergenot

Foto: www.pixabay.com

Foto: www.pixabay.com

Danksy die groot sukses waarmee RSG vroeër vanjaar die eerste seisoen van Radioteater afgesluit het, het dié radiostasie pas ʼn tweede seisoen, met splinternuwe radiodramas uit die penne van skrywers soos Pirow Bekker en Dolf van Niekerk, aangekondig.

Kobus Burger, RSG se uitvoerende hoof van drama, sê radiostorie-liefhebbers kan in dié seisoen uitsien na ʼn groot verskeidenheid werke van bekende én minder bekende skrywers.

Die tweede Radioteater-seisoen skop Donderdag 6 Oktober om 20:00 af met die 87-jarige Dolf van Niekerk se Reisiger na Kimberley.

Van Niekerk het reeds in 1950 as radio-omroeper en vervaardiger begin werk. Sy roman, Haasvanger, is met onder meer die MER-prys bekroon.

Margot Luyt is die regisseur van dié drama met spelers soos Roeline Daneel, Deon Lotz, Ivan Abrahams en Stian Bam.

“Sir Peter Shaffer, wat vanjaar sy 90ste verjaardag gevier het en in Junie oorlede is, verleen onder meer ook ʼn klassieke geur aan die nuwe seisoen. Shaffer se tydlose en Tony-bekroonde Amadeus, vertaal deur wyle Nerina Ferreira, oor die komponiste Wolfgang Amadeus Mozart en Antonio Salieri word Donderdag 20 Oktober uitgesaai,” het Burger gesê.

Wyle Pieter Pieterse se jeugroman, Dag van die reuse (1985), is ook in opdrag van RSG deur André Kotzé in ʼn radiodrama verwerk en word deur Leon van Nierop opgevoer. Pieterse was ʼn bobaas-storieverteller, skrywer en TV-aanbieder van programme soos Swerwerskos.

Pirow Bekker (Foto: Verskaf)

Pirow Bekker (Foto: Verskaf)

“Dag van die reuse handel oor ʼn jong Portugese seun se verhouding met ʼn olifant en sy verbete stryd om die dier se lewe te red. Meer as drie dekades later spreek hierdie storie oor bewaring en ʼn liefde vir die natuur steeds tot die luisteraar,” het hy vertel.

Ander radiodramas wat deur die loop van die seisoen ingesluit gaan word, sluit in Pirow Bekker se Die tikmasjien, wat Donderdag 27 Oktober gehoor kan word. Dié drama is ʼn ode aan water en neem die luisteraars terug na die era toe boormasjiene en boormanne die land deurkruis het op soek na water.

Die Vrystaatse dramaturg en aktrise Ilné Fourie sorg vir komiese lafenis met haar solostuk, Sjarrap en eet jou kos!, wat deur Eben Cruywagen vir die radio verwerk is. In hierdie bekkige stuk steek Fourie die draak met die mense wat sy as kelnerin bedien het. ʼn Dag in die lewe van ʼn kelner is immers allesbehalwe koek en konfyt!

Burger meen luisteraars was vroeër vanjaar só gaande oor Riana Scheepers se drama Die wittebrood, dat hulle behoorlik vir ʼn opvolg gesmeek het. “Christelle Webb-Joubert is die regisseur van Die wittebrood II, wat vertel oor dít wat met die wittebroodspaartjie gebeur het nadat hulle toergids wreed voor hulle oë gesterf het,” het hy bygevoeg.

Die wenner van vanjaar se RSG Cordis Trust Christelike Radiodrama-skryfkompetisie word op Kersdag uitgesaai.

Dié Radioteater-seisoen word Donderdag 29 Desember afgesluit met Joe Kleynhans se Voos geskaaf, ʼn lig komiese radiodrama oor verhoudings.

Radioteater word van Oktober elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.