Radioseminaar bemagtig Afrikaanse gemeenskapstasies

Foto: Adéle Changuion

Foto: Adéle Changuion

Radio is sekerlik een van die toeganklikste mediums omdat dit nie diskrimineer teen opvoeding en klas nie en soveel mense van verskillende vlakke van die samelewing bedien.

Die invloed van die radio sal nooit gemeet kan word nie omdat dit soveel rolle in die luisteraar se lewe speel: Dit lig in, vermaak en is ook een van die eerste mediums waarna mense in moeilike tye draai. Gemeenskapsradiostasies het veral ʼn groot verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap omdat dit die luisteraar moet kan bemagtig.

Maroela Media besef die waarde van Afrikaanse gemeenskapsradio, asook dat sulke stasies gewoonlik aan die kortste ent trek. Juis daarom bied Maroela Media vanjaar sy vierde radioseminaar aan. Omdat die seminaar so gewild is, gaan daar later vanjaar ook ʼn seminaar in die Kaap aangebied word.

Susan Lombaard, uitvoerende bestuurder van Maroela Media, sê die bevordering van Afrikaans in die media is baie belangrik. “Maroela Media wil die stasies toegang bied tot opleidingsgeleenthede en inhoud soos vervolgverhale, waartoe hulle nie normaalweg toegang sou hê nie, of soms net nie kan bekostig nie. Die seminaar is ook ʼn netwerkgeleentheid waar stasies mekaar kan leer ken en ondersteun.”

Die Pretoria-seminaar is deur verteenwoordigers van verskeie gemeenskapsradiostasies op 20 en 21 Augustus bygewoon, waartydens kenners hul wysheid en ondervinding gedeel het. Lance Rothschild, radiokenner, het oor verskeie onderwerpe soos bemarking, tegniese versorging en die teikenmark gesels – ʼn onderwerp waarby almal soveel kon baat omdat dié inligting soms moeilik bekombaar is. Hy het ook gesels oor wat goeie radio behels: “Die wedloop na uitnemendheid ken geen eindstreep nie.”

Regisseur, TV- en radioaanbieder Bettie Kemp het oor die belangrikheid van vervolgverhale gesels en ook die geleentheid benut om ʼn nuwe vervolgverhaal, Groblerspruit, bekend te stel. Dié vervolgverhaal word in samewerking met Maroela Media vervaardig en ook gratis aan stasies verskaf.

Op die tweede dag het TV-persoonlikheid Lindie Strydom oor die invloed van die media gesels en gesê dat radio se grootste bate invloed is. “Ons kan mense se idees en menings skuif.” Sy het ook genoem dat mense raad en leiding soek by Christelike media.

Verskeie seminaargangers, soos aktrise Bertha le Roux, het veral dié praatjie geniet. Bertha het die volgende getwiet: “Inspirasie = bring in beweging op die rots van waarheid, nie die manipulasie deur emosie wat op sand staan nie. #klankgolf @maroelamedia @657AM.”

Die laaste spreker het ook geen bekendstelling nodig gehad nie en was beslis ’n hoogtepunt tydens die seminaar. Freek Robinson se praatjie het op die praktiese sy van radio gefokus. Wenke oor onderhoudvoering en inhoud is in diepte bespreek en belangrike detail oor aspekte soos stemtoon, liggaamshouding en kleredrag is gedeel. ’n Paar seminaargangers het ook die geleentheid gekry om Maroela Media se opname-ateljee saam met Freek te ervaar. Tydens dié sessie is ’n onderhoud opgeneem waarin Freek weer terugvoer aan stasies kon gee oor wat ’n goeie onderhoud behels.

Verskeie seminaargangers het gesê dat die tweedag-seminaar nie net insiggewend was nie, maar dat hulle dit ook baie geniet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petro Bezuidenhout. ·

‘n Radoesiminaar is noodsaaklik om die kwaliteit van die stasies se aanbieding te verhoog.Dankie vir briljante aanbieders wat hulle kundigheid kon deel om diesulkes toe te rus vir die rol wat hulle speel/

Peet Schabort ·

Terwyl ek nou hier voor die rekenaar sit is ek besig om ook radio te luister. Iets wat ek nie sou kan doen met beeldradio (TV). Goed en wel om leersame inligting te kan sien MAAR die VERBEELDING van die mens ly daaronder.
Al opgelet dat daar selde, wel, dis my ondervinding, oor TV-stories se episodes geselskap gevoer word terwyl daar eerder oor radiostories gesels word ? Die rede is heel eenvoudig: Die opset/aanbieding van die TV-verhaal word deur die kyker gesien en almal ervaar die storie se omgewing en rolspelers presies dieselfde. Die gebruik van die verbeelding is heeltemal uitgesluit terwyl die omgekeerde gebeur met die radioverhaal. In die radioverhaal kan elke luisteraar sy eie beeld vorm oor omgewing, rolspelers ens. Daar is dus iets om oor te gesels want, as voorbeeld, het oom Kosie ‘n rooi baard en tant Gesie ‘n perdebylyfie ?
Deur jou verbeelding te gebruik bly jou brein ook in oefening
Dan is daar natuurlik ook die radioaanbieder wat seer sekerlik ‘n voordeel het teenoor sy TV-eweknie waaroor ek nie verder sal uitbrei . . . . .

Pieter Cloete ·

Dankie Maroela Media! Dit was een van my beter besluite gewees om julle seminaar bytewoon! DANKIE! :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.