‘Sjarrap en eet jou kos!’ ‘n radio-juweeltjie

radio-1569611_1920Die jong Vrystaatse dramaturg en aktrise, Ilné Fourie, debuteer op Donderdag 10 November om 20:00 in Radioteater op RSG met Sjarrap en eet jou kos!, ’n verhoogteks wat vir radio aangepas is.

Die teks is ideaal geskik vir die radio, aangesien die luisteraar die gedagtewêreld van die kelner betree en vanuit daardie uiters intieme kennismaking, die (on-)heilige, nooit gehoorde dinge (met apologie aan N.P. van Wyk Louw) hóór wat kelners hul klante moontlik hardop sou wou toesnou. Vrae soos: Wat het julle wat lekker is? Of: Waar kan ons sit waar dit nie so warm is nie? Of: Wat is in julle lemon meringue? Dié vrae is genoeg om enige moeë kelner teen die mure uit te dryf!

Radiodrama is intiemer as die lewe en besorg dus aan Sjarrap en eet jou kos! die voordeel, aangesien die luisteraar wéét die klant hoor nie wat die kelner dink nie en juis daarom is haar antwoorde soveel snaakser as wat dit op die verhoog is.

Die teks is só lewensgetrou, dat mens nie anders kan as om te glo die skrywer moet eerstehandse ervaring hê van die belewenisse van kelners nie. Daardie geloofwaardigheid maak van hierdie drama ‘n klein juweeltjie!

Martelize Kolver is Die Kelner en die klante is Susanne Beyers, Roeline Daneel, Gina Assanté, Leon Kruger, Chris Majiedt en Ludwig Binge.

Die regisseur (en verwerker) in Kaapstad is Eben Cruywagen.
Radioteater word tot einde Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.