Veelbekroonde drama binnekort op draadloos

Van links: Andre Odendaal (Frank), Wilhelm van der Walt(Tim), Retief Scholtz (skrywer van DOP) en die regisseur Johan Rademan (Foto: Verskaf)

Selfs verlamming en moegheid kon die Afrikaanse akteur Wilhelm van der Walt nié keer om onlangs ʼn “kragtoer te lewer” tydens die radio-opname vir die verhoogproduksie Dop nie.

ʼn Radioverwerking van dié verhoogdrama uit die pen van Retief Scholtz, wat in September verlede jaar sy teaterbuiging gemaak het, word op 2 November om 20:00 op RSG uitgesaai as deel van die Radioteater-program.

Scholtz het self die verhoogstuk, sy debuut as dramaturg wat hy in agt maande geskryf het, vir die radio aangepas.

Johan Rademan, regisseur van dié produksie, vertel Van der Walt is sowat agt weke voor die opnames vir dié produksie met Bell se verlamming gediagnoseer. Dié verlamming kom in die een helfte van die gesig voor en die simptome kan soms aan dié van ʼn beroerte herinner.

“Hy moes heelwat pyn en ongemak verduur met die opnames in RSG se radiodrama-ateljee in Seepunt in Kaapstad,” vertel Rademan. “Desondanks die moegheid, pyn en verlamming het Van der Walt ʼn kragtoer gelewer. Soms moes hy sy lip vashou om die moegheid en gevoel van lamheid teen te werk, maar hy was fantasties.”

Dop vertel die verhaal van Frank Venter (Odendaal), die spreekwoordelike doodgewone man op straat. Hy ken nie baie mense nie en sal beslis ook nie sommer onthou word nie. Soos elke mens het Frank ʼn storie, maar niemand luister na sy storie nie.

Eendag sit Frank in ʼn kroeg. Dis sy verjaardag. Buiten die kroegman, Tim (van der Walt), is Frank alleen in die kroeg, soos in sy lewe. Albei het iets van die ander een nodig: Frank ʼn klankbord om sy bestaan te bevestig en Tim die regte woorde om sy hart uit te praat.

Odendaal is al meer as 30 jaar bekend as gerekende akteur en regisseur en Van der Walt is veral bekend vir sy teaterwerk. Hy was vanjaar weer tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees saam met Sandra Prinsloo en Waldemar Schultz te sien in Pa, maak vir my ʼn vlieër pa.

Radioteater word tot einde Desember elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word op ’n Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 op die Deurnag-program herhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.