Vierde RSG Kunstefees propvol hoogtepunte

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

Die vierde aflewering van die RSG Kunstefees spog vanjaar met 18 debuutwerke, waaronder dramas oor geskiedkundige figure soos Sarah Baartman en Beyers Naudé. Vanjaar se fees gaan wéér grense verskuif met talle werke wat beloof om luisteraars te betower.

Twee van Suid-Afrika se Grammy-wenners, Wouter Kellerman en die Soweto Gospel Choir, deel die verhoog tydens ʼn spesiale feeskonsert en drie kort komiese radiodramas, uit die pen van die bobaas-storieverteller, Jan Spies, gaan die luisteraars se lagspiere prikkel.

Die RSG Kunstefees begin op 13 November met ʼn regstreekse uitsending van Amanda Strydom se veelbekroonde kabaret, State of the Heart.

Die bekroonde radiokunstefees sal duur tot op 18 November.

Só lyk die hoogtepunte van die kunstefees:

Joey van Niekerk se opdragwerk, Engel met ʼn hamer, oor die lewe van die dominee, teoloog en anti-apartsheidaktivis Beyers Naudé, beloof om ʼn feeshoogtepunt te wees. Dit is die eerste keer dat Naudé se verhaal in ʼn drama uitgebeeld word.

Die Suid-Afrikaans gebore internasionale mezzosopraan, Michelle Breedt, tree eksklusief vir die RSG Kunstefees op in ʼn program waarin sy Afrikaanse, Duitse en Engelse liedere, gegrond op Shakespeare-gedigte, sal sing. Sy het reeds met die wêreld se voorste dirigente gewerk en hoofrolle gesing tenoor Plácido Domingo, Thomas Hampson, Piotr Beczala, Diana Damrau en Renée Fleming.

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

Sarah Baartman, van die Gamtoos in die Oos-Kaap, moes in die negentiende eeu in Europa as ʼn frats paradeer. Nou, vir die eerste keer, word die grense van radiodrama en dokumentêr oorgesteek in Karien Polley se opdragwerk Sarah.

Die Stellenbosse digter, Marius Titus, se 70ste verjaardag word gevier met ʼn reeks voorlesings uit sy oeuvre van die afgelope drie dekades, terwyl die kleinspan saans kan naderskuif vir Kobus Ras se Die Dingusse, ʼn reeks oor eienaardige “goeters” wat saamwoon en mekaar nooit, ooit kan verlaat nie!

Die regisseur, Bettie Kemp, het William Shakespeare se komedie, Twaalfde Nag, spesiaal vir die radio verwerk. Ter viering van die tydlose dramaturg se heengaan 400 jaar gelede, word hierdie Uys Krige-vertaling spesiaal vir die RSG Kunstefees opgevoer.

In Boegoe vannie liefde sing die sangeres-liedjieskrywer, Lize Beekman, aangrypende toonsettings van Hans du Plessis se transponerings van Hooglied. Dit is ʼn program van woord en musiek oor liefde tussen die duine in ʼn Afrikaans wat van toeka af al in die sand onder die kameeldoring lê.

Die aktrise Woutrine Theron het ter viering van die geliefde rubriekskrywer, Audrey Blignault, se 100ste verjaardag, die produksie ʼn Oulap se rooi, saamgestel. Theron vertolk die rol van Blignault in ʼn radiodrama oor die kleurvolle vrou van Bredasdorp.

Die skrywer en letterkundige, Riana Scheepers, het die Griekse digter Sappho se verse spesiaal in Afrikaans vertaal en verwerk en dit is deur die sangeres-liedjieskrywer Marlise Scheepers getoonset. In Die liefde, bittersoet leer ken ons die omstrede vrou wat deur Plato as “die tiende muse” beskryf is.

Die aktrise, Jana Cilliers, lewer ʼn kragtoer in Esther Vilar se omstrede solostuk, Pous Johanna II, wat geloof en godsdiens in die moderne wêreld bekyk. Dit is die jaar 2033 en die dogter van ʼn prostituut word as pous verkies. Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. En nou moet Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op TV lewer.

Anton Goosen het vanjaar sy 70ste verjaardag gevier. In Danzer sluit Zolani van Freshlyground, David Kramer, Tribal Echo, Churchill Naudé en Sima Mashazi hulle by Goosen en sy Bushrockband aan vir ʼn reis deur die grensverskuiwende musiek van sy Danzer-album.

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

RSG Kunstefees 2016 (Foto: Verskaf)

Emo Adams, Schalk Bezuidenhout en Lindie Stander vorm ʼn gedugte driemanskap onder leiding van die bekkige Johan Rademan in vryLAG, ʼn komiese, nuwe radioproduksie wat ʼn stortvloed van lagbuie gaan verseker.

In Lief-lief deur Afrikaans neem die voordragkunstenaars Johann Nel en Joanie Combrink die luisteraar op ʼn soomlose liefdesreis saamgestel deur Juanita Swanepoel. Met die werk van sowat 28 digters en van die heel oudste én stoutste liefdesverse in Afrikaans, verken hulle ʼn paar interessante afdraaipaadjies.

Die komponis en operasanger Geo Hoehn se klankbane is al as “epies” bestempel. In sy opdragwerk verken hy “grond” en wat dit vir mense beteken, met ʼn roerende klankeksperiment.

André Kotzé het drie van Jan Spies se verhale as radiodramas verwerk. Luisteraars gaan lekker lag vir Dawid en Jonathan, Ditto en do asook ʼn Poort deur die koue. Richard van der Westhuizen en Rina Nienaber is van die spelers in hierdie stukke met hul aardse humor.

Krisjan Fourie is die skrywer van Die onsigbares, ʼn reeks van vyf klankstories wat ʼn heel nuwe blik bied op ʼn paar geskiedkundige gebeure. Nic de Jager is die voordragkunstenaar met Paul Riekert (van Battery 9-faam) wat die klanklandskap geskep het.

Antonio Vivaldi se Vier seisoene is byna 300 jaar gelede gekomponeer en die gedigte wat vir elke seisoen geskryf is, is glo deur Vivaldi self geskryf. Hierdie vioolkonsert is nou op ʼn unieke manier vir ʼn driestuks musikante verwerk en dr. Dawid de Villiers het die Italiaanse sonnette in Afrikaans vertaal. Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag) reis met woord en musiek deur die jaargetye.

Die digter, Lina Spies, se tiende digbundel word eksklusief tydens die RSG Kunstefees bekend gestel met ʼn onderhoud met haar en voorlesings van die gedigte uit die nuwe bundel Sulamiet.

Christelle Webb-Joubert en Johan van Lill sal elke dag die oggend-kunstefees (van 09:00 tot 12:00) aanbied en Renske Jacobs die aandprogramme (van 19:00 tot 22:00).

Die eerste radio-kunstefees is reeds met die Fleur du Cap-teaterprys vir vernuwing bekroon, asook met die Business Arts South Africa (Basa) se prys vir vernuwing.

Luister na die fees op 100 tot 104 FM, of op DStv-kanaal 813. Al die feesaanbiedinge is gratis. Die fees kan ook aanlyn beleef word op RSG se webwerf of op die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annette ·

Waar kan ek die 2016 RSG Kunstefees se volledige PROGRAM aflaai?? Dankie byvoorbaat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.