Soorte resepte:

10 wenke om dié winter gesonde kosbesluite te neem

Izelle Hoffman (Foto: Verskaf)

Deur: Janie Monsieur

Die koue wintermaande laat ons maklik gryp na warmer en romeriger kos – dit laat jou snoesig voel in die winter en maak jou warm van binne af. Maar dié kossoorte is nie altyd die beste vir jou gesondheid nie.

Maroela Media het aan leefstylsjef Izelle Hoffman se deur gaan klop om te hoor hoe jy dié winter gesond kan bly.

Izelle gee 10 wenke om jou die winter so ʼn bietjie in toom te hou, sonder om te voel asof jy op ʼn dieet is.

  1. Kook jou eie sop in plaas daarvan om dit by die naaste supermark van die rak af te haal of uit hulle yskas in jou winkeltrollie te glip. Die meeste van hierdie sopprodukte dra nie jou heupe en middel se beste belange op die hart nie.
  1. Die bank en ’n dik wolkombers gaan beter en meer bevredigend voel nadat jy ’n ent gaan stap of selfs ’n paar oefeninge in die sitkamer gedoen het.
  1. Berei warm bredies en roerbraaidisse volledig self voor, nie net smaak dit soveel meer hartlik nie, dit is heelwat laer in kilojoules, veral as jy nie souse van die rak af gebruik nie.
  1. Vrugte soos suurlemoene, lemoene, appelkose, papaja en pynappel bevat baie vitamien C, so vul gerus jou yskas daarmee aan.
  1. Eet ook groentes wat vitamien C bevat, soos patat, spinasie, broccoli, soetrissies en blomkool.
  1. (Foto: Izelle Hoffman)

    Helderkleurige groentes soos botterskorsie, pampoen, wortels en patat is ideaal vir middagete, terwyl groen groentes soos broccoli, spinasie, murgpampoentjies, groenboontjies en skorsies meer ideaal is vir aandete.

  1. Vir peuselhappies deur die dag stel ek voor jy eet vrugte in die oggend, en neute en biltong in die laatmiddag.
  1. Bederf jouself een maal ’n week met ’n “kroek-maaltyd” van jou keuse. Dit sal jou gemotiveerd hou en nie laat voel dat jy nooit kos mag geniet nie. (Ek stel altyd Sondagmiddagete voor hiervoor, dan is poeding ook mos deel daarvan!)
  1. Beplan jou etes vooruit, dit sal help dat jy jou nie vergryp aan wat ook al beskikbaar is nie.
  1. Om gesond te wees is ʼn leefstyl, nie ’n vonnis nie. Moenie dit as ’n straf beskou nie, maar eerder as ’n belegging in jouself en jou gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.