Soorte resepte:

15 kombuis-wenke wat jou lewe sal vergemaklik

Foto: Pixabay.com

Hoe dop jy ‘n gekookte eier af? Wat is die vinnigste manier om vrugte en groente ryp te kry? Hoe gemaak as jou oë traan terwyl jy ʼn ui sny? Dié wenke wys jou presies hoe.

Verbruining van aartappels

  • Wanneer jy aartappels geskil het, plaas dit dadelik in koue water. Dit sal voorkom dat aartappels van kleur verander.

Vrot tamaties

  • Stoor tamaties teen kamertemperatuur en nie in die yskas nie. Die tamaties sal op dié manier langer hou.

Groen vrugte en groente

  • Sit vrugte en groente in ʼn papiersak. Die gekonsentreerde gasse sal die rypingsproses versnel.

Verbruining van gekapte vrugte

  • Gekapte vrugte soos appels word baie gou bruin. Dié heuningmengsel sal verbruining keer:
    Meng twee teelepels heuning met ʼn koppie water. Plaas die stukke vrugte in die mengsel en laat dit vir ʼn paar minute daarin. Dreineer die water. Jou vrugtestukke sal baie langer hul kleur behou.

Kleefplastiek-rampe

  • Plaas die rol kleefplastiek in die yskas of vrieskas en dit sal soveel beter hanteer. Wanneer die kleefplastiek nie wil plak nie, maak die rand van jou bak nat en plaas dan die plastiek oor die bak.

Bedek bakke kos

  • Gebruik sommer ʼn nuwe stortkeps om kosbakke te bedek. Dit is soveel makliker as kleefplastiek.

Vrot eiers

  • Plaas ʼn eier in ʼn bak koue water. As die eier na die bodem sak, is hy nog eetbaar. As die eier na die oppervlak styg, kan jy dit weggooi. Vloeistof in die eier verdamp mettertyd en vorm dan ʼn gasborrel.

Stukkies eierdop in mengsels

  • Gebruik die helfte van ʼn eierdop om klein stukkies eierdop uit mengsels uit te haal. Die dop werk amper soos ʼn magneet.

Pampoenpitte

  • Skep pampoenpitte met ʼn roomysskepper uit.

Skil ʼn gekookte eier

  • Voeg asyn of koeksoda in die water wat gebruik word om eiers te kook. Die eiers sal soveel makliker skil.

Rasper sagte kaas

  • Bevries sagte kaas soos mozzarella vir 30 minute voor jy dit rasper. Dit sal die proses vergemaklik.

Sny sagte kaas

  • Gebruik geurlose tandvlos om sagte kase soos brie mooi netjies te sny.

Uie laat oë traan

  • Vir uie wat later gebraai gaan word: bevries die ui voor jy dit begin sny en kap.
  • Vir uie wat rou gebruik gaan word: plaas ʼn sny brood in jou mond met ʼn deel wat uit jou mond hang.

Harde botter

  • Rasper harde botter om dit vinniger te laat versag of sny die blok botter in agt dele sodat dit vinniger sal ontdooi.

Water wat oorkook

  • Sit ʼn houtlepel oor die pot.

Lees hier vir nog wenke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

margareth ·

ń Eier het ń dop so jy dop hom af. Sal nogal daarvan hou om te sien hoe skil jy hom. Nog nooit probeer

Janie Monsieur ·

Dagsê margareth,

Dankie vir die kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Hannah ·

Dankie vir die raad tov uie in die vrieskas…. stryd om 3kg uie te sny vir Uiemarmelade!

wilna peplet ·

Tik die hele eier met n lepel reg rondom, skil hom dan af met jou vingers! Doen dit elke oggend dit werk!

Boerenooi ·

Dop ‘n eier af …. Skil ‘n eier af. Wat maak dit saak?! Almal weet tog wat daarmee bedoel word. Ai tog ?? Baie dankie MM vir die goeie raad. ☺

LS ·

Om ‘n avo ryp te kry, sit dit saam met piesangs, dit word baie vinniger ryp as enige ander raad, het dit beproef en dit het gewerk !
As jy net die helfte van ‘n avo gebruik en die ander helfte wil los vir later, sit dit in ‘n ligdugte houer saam met ‘n halwe geskilde ui, dit verbruin glad nie en dit kry ook nie ‘n uie smaak nie.
As eiers klaar gekook het, gooi die warm water af en sit dit in koue kraan water dan dop dit baie maklik af.
Wanneer jy mense nooi vir ‘n braai en jy wil pap en sous maak, maak jou pap in die mikrogolf oond half gaar voor die mense opdaag, haal uit, draai ‘n WARM kombers om dit en maak dit toe, by die tyd wat jy eet is jou pap lekker gaar en nog baie warm, dit verloor glad nie hitte nie en kan jy lekker kuier saam met jou gaste sonder om jouself oor die pap op die stoof te moet bekommer

evsbest ·

Ag dis nou n lekker berig!!! Baie dankie!! Sal snaaks lyk met n sny brood in die mond maar so gee ek ander kans om te lag vir my. Gaan dit sowaar vanaand beproef.

Amanda ·

Ja dit sal baie snaaks wees as mense jou so sien met die stuk brood wat uit jou mond hang :-)

Riana ·

LOL …. van nou af staan al die vrouens met brood in die mond voor die stoof. ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.