Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Gesonde kosblikke en breinkos

(Foto: Verskaf)

My kinders vertrek reeds om 06:45 skool toe en kosblikke pak is ʼn fyn balans sodat die items in die kosblik nog vars en aptytwekkend vertoon. Hoe gemaak? Ek is die ma van drie filistyne en hul ouderdomme wissel drasties. Die oudste is tans op universiteit en is reeds van jongs af betrek by die kosblikpakkery en voorbereiding van etes. Hy gaan goed op sy eie aan. Maar ek het nog ʼn 16-jarige en 9-jarige in die huis en ek kan nie een kosblikstyl vir albei pak nie omdat die energiewaardes van elke kind drasties verskil. Ek gee vandeesweek vir julle ʼn uittreksel vanaf my webtuiste oor ʼn onderwerp waaroor ek baie passievol is en dit is breinkos.

Wat is breinkos?

Breinkos en hoe om konsentrasievlakke met kos te beheer en konstant te hou. Geen eetgoed uit pakkies nie. Draai die pakkie eetgoed om en lees die lys van bestanddele. Is jy bereid om jou kind woorde wat jy nie kan ontsyfer nie te gee? Weet jy ooit wat daardie woorde beteken en wat hul funksie is? Wat is die uitwerking van langdurige gebruik van pakkies verwerkte voedsel op die liggaam? Opbou van toksiene, vrye radikale en karsinogene! Hoeveel aandag gee jy aan gastro‑intestinale gesondheid? Kry jou kind genoeg probiotika in deur die voedsel wat hul eet? Het jy geweet dat ongeveer 80% van serotonien in die dermkanaal vervaardig word en dit het te doen met gemoedstoestand. Pro- en prebiotika hou jou kind se liggaam gesond, veral in tye van stres en uitputting. Hierdie is ʼn paar saadjies wat ek plant om jou verder navorsing te laat doen. Lees asseblief die volledige artikel.

Ons woon in die platteland en dus is ryery en aktiwiteite vir skool ’n hele dag se tog. My kosblikke moet my filistyne aan die gang hou tot ten minste 15:00. Bloedsuikervlakke wat nie konstant bly nie as gevolg van swak voeding, is die hoofoorsaak waarom kinders as stout of moeilik bestempel word. Ouers moet in ag neem dat die volgende faktore belangrik is om konstante bloedsuikervlakke te handhaaf. ’n Kind kan nie langer as 20 minute aaneen konsentreer nie. Gewoonlik is lesse ook net so lank voordat hulle met werk moet aangaan. Dit is ook hoekom pouses so geskeduleer word dat kinders die tyd sal gebruik om te eet (eintlik meer te peusel) in hierdie tyd.

Dit is belangrik vir kinders en volwassenes om ten minste elke drie tot vier (vier rek dit) ure te eet. Dit is waar die kritieke tye inkom waar die knaaggogga jou beetkry; dink mooi en kontroleer jouself na aanleiding van my stelling. Dit gebeur as die bloedsuikervlakke begin daal. Die brein kry nie genoeg suurstof nie en begin vir die liggaam tekens gee om kos te soek. Ja, dan begin die bose kringloop en daar word na die eerste ding gegryp om die knaaggogga stil te maak en dit is gewoonlik stysel! Ons moet dus kyk na die tipe kos wat ons inpak.

Proteïene en koolhidrate moet in fyn balans gekombineer word vir die instandhouding van konstante bloedsuikervlakke en genoegsame suurstof wat na die hele liggaam versprei word. Daar moet vir eerste en tweede pouse ’n proteïen beskikbaar wees.

Neute is ’n goeie bron van proteïne en suiwel. Leer jou kind om sy of haar happies te beplan en verduidelik dat byvoorbeeld met die negejarige se kosblik die neute eers tweede pouse geëet moet word.

Koolhidrate kan problematies wees. Kies vrugte en ook stysels wat ru en so onverwerk moontlik is. Druiwe, lietsjies, pynappel en piesang moet matig ingeneem word. Appels is altyd ʼn wonderlike alternatief en vol vesel en koolhidrate vir ʼn goeie kombinasie vir konsentrasie. Oorweeg ook om self vrugte te droog.

(Foto: Verskaf)

Hoe gemaak met moeilike eters?

Wel, dissipline tuis is ongelukkig waar dit moet begin. Kry ’n vaste roetine in die eetpatroon; roetine is jou en jou kind se veiligheidsnet. Dit dwing outomaties dissipline af sonder ʼn bakleiery. Sit met jou kinders om ʼn tafel en stel ’n lys op van wat hulle graag sal wil eet.

Selfs al is dit wat hulle op hul lys sit ongesond. Verdeel die lys in goeie goed en minder goeie goed. Wys hulle hoe lank die minder goeie goed is. Gaan ’n kompromie aan om die verbode item op die lys wel toe te laat mits hy of sy dan twee van jou lys sal kies. Begin deur die kinders saam inkopies te laat doen vir hierdie spyskaart, maak dit ’n positiewe ervaring en genotvol.

Pak daarna saam die pakkies en proe speel-speel saam. Jy kan later minder en minder van die verbode items inpak. Hulle sal ook die positiewe invloed op hul liggame begin voel. Moenie dat kos ’n geveg word en negatiewe konnotasies laat nie.

Daar is oulike saamdoenprojekte in my Boerekos met ʼn Twist-kookboek asook op die webtuiste om die kinders sover te kry om lief te raak vir die kombuis. Maak tyd vir mekaar en luister ook fyn; maak dus ʼn formele afspraak met jou kind om hom of haar belangrik te laat voel. Hul menings tel ook. Doen die inkopies saam op ʼn tyd wat jy rustige is en nie gejaag is nie. Oorweeg ʼn Saterdagoggend.

Maaltydplan vir jou kind tot en met die skool uitkom

Ontbyt
My kinders verkies ʼn proteïendrankie drie maal per week en hier is vir julle ʼn resep wat ek gereeld maak en dan die vrug van keuse verander soos dit beskikbaar is.

Proteïenpoeiers is geredelik by jou naaste kettingwinkel-apteek beskikbaar. Koop ʼn soort wat laag is in preserveermiddels en geurmiddels. Dit is redelik duur, maar jy het net 15 ml per kop nodig en dit sal vir twee kinders ongeveer drie maande hou as jy drie maal per week só ʼn ontbytvervanging doen.

Piesangbroodgeure‑smoothie

Bestanddele

  • 20 g donker kakao (opsioneel)
  • 100 ml klapper‑ of enige melk
  • 15 ml weiproteïen, geïsoleer
  • knippie kaneel
  • 1 piesang of vrug van keuse (gevries maak dit ʼn heerlike gladdejantjie)
  • 50 g hawermout, oornag geweek in 125 ml water

Metode
Dreineer die hawermout en plaas al die bestanddele in ʼn voedselverwerker geskik vir die doel van purees maak en verwerk tot baie fyn. ʼn Paar ysblokkies kan ook bygevoeg word.

Kosblik: Negejarige
*Voedselallergie: E-reeks preserveer-, kleur- en geurmiddels

  • 1 x 30 g quinoa-broodjie, een sny
  • 10 g repies ham of enige kouevleis sonder preserveermiddels
  • 2 stukkies blaarslaai
  • geen botter op broodjie (klein filistyn hou nie van botter of margarien nie), maar 15 ml gekookte slaaisous
  • 100 ml jogurt (tuisgemaak)
  • 6-8 druiwekorrels
  • 4-6 kersietamaties
  • 20 g pekanneute (heerlike breinkos)
  • 30 g wortelvingers (wel nie ’n lae-GI nie, maar my dogtertjie is gek oor ’n wortel, en dit dien tog as vesel en die soet gee ʼn bietjie energie)
  • 500 ml water met 100 ml kombucha en ʼn skyfie suurlemoen gemeng.

Kosblik: 16-jarige

Wrap

  • 2 rotis, volkoring
  • 6 slaaiblare
  • 50 g ham
  • 30 ml gekookte slaaisous
  • 50 g komkommer
  • 20 g mozzarella

Ekstra

  • 1 appel (100 g), in wiggies gesny en met suurlemoensap gespuit om verbruining te voorkom
  • 50 pekanneute
  • 100 g tamatie
  • 30 g wortels
  • 200 g jogurt
  • 500 ml water met 100 ml kombucha en ʼn skyfie suurlemoen gemeng.

Besoek hier Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anni ·

Sjoe lekker word di kinders bederf. Wonder hu laat staan di ma op om als gedun te Kry. Futerlife is n wonderlike shake om te drink in oggend. Hou jou lank versadig. Kry dit in oats en vir kleiner kinders ook.

Tokkie ·

In ons tyd was dit toebroodjies in waspapier toegedraai. En ons het niks oorgekom nie.

Mamma ·

sjoe, lyk so lekker soek al lankal beter alternatief as brood wat mens se spysverteringstelsel verstop…gaan dit beslis oorweeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.