Soorte resepte:

Beste whiskies binnekort in die Moederstad

Pierre Meintjies gesels met die feesgangers oor Whiskies in 2015. Foto: Verskaf

Pierre Meintjies gesels met die feesgangers oor Whiskies in 2015. Foto: Verskaf

Whisky-liefhebbers het die geleentheid om die wêreld se beste whiskies op die proef te stel tydens die Whisky Live-fees wat van 14 tot 16 April in Kaapstad aangebied word.

Dié fees is ’n kleiner weergawe van die Whisky Live-fees wat jaarliks in Sandton aangebied word.  Die fees skep intieme geleenthede waar die beste plaaslike en buitelandse whiskies in die kollig geplaas word en besoekers kry die geleentheid om meesters in die bedryf te ontmoet en te leer hoe om die beste uit elke sopie te haal.

Die whiskies op die fees strek onder meer van die Black Bottle-versnit tot Scottish Leader en die enkelmout Bunnahabhain van Islay.

Die mengelmeesters Owen O’Reilly en Samantha Holman sal skemerkelkies aanmekaar slaan by die Black Bottle-stalletjie, terwyl die whiskykenners Tommy Larkan en Vincent Motau gaste sal nader hark met die soet, ryk en gladde eienskappe van Scottish Leader.

Feesgangers moet vinnig spring vir ʼn geleentheid om die 12 jaar oue Scottish Leader, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, op die proef te stel. Slegs ses bottels is beskikbaar vir proegeleenthede. Daar is darem ruim geleentheid om te proe aan die Scottish Leader Original en die Signature-versnitte wat wel plaaslik te koop is.

Die nuwe Black Bottle is ’n veelsydige versnit van enkelmout- en graanwhiskies wat tans weer in ’n swart bottel bemark word. ʼn Hersiene resep wat getrouer is aan die oorspronklike van die skepper, Gordon Graham, en wat van die 19de eeu dateer, word gebruik.

Kaartjies kos R180 per persoon en sluit toegang in tot die deli-area vanaf 18:00, asook toegang tot die proe-saal vanaf 18:30. Alle kaartjies sluit ook in ’n proeglas, 500 ml Valpré en 15 proe-koepons. Ander opsies is ook beskikbaar. Die fees is daagliks van 18:00 tot 21:30 oop vir die publiek.

Bespreek kaartjies op Whisky Live Festival se webwerf of by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ag hoe lekker klink dit net jammer ek bly heeltemal in die ander kant van ons mooi land.
Die wat wel gaan moet dit geniet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.