Soorte resepte:

Boek: Begin jou eie groentetuin

Johan van Zyl en Peter van Noord

Om jou eie groente en kruie te kweek is ʼn nuwe tendens wat spruit uit die behoefte om stadiger te leef, te weet waar jou kos vandaan kom en beter na die planeet om te sien. In Begin jou eie groentetuin rus dié twee plattelanders jou toe om dit te doen deur die nuutste ontwikkelings in te span – van waterbesparing en permakultuur tot biodinamika en herwinning. En jy hoef nie ʼn groot stuk grond te hê nie. ʼn Groentetuin kan jy op ‘n balkon, in ʼn vensterbank en vertikaal teen ʼn muur aanlê.

Leer hoe om kompos te maak, watter plante droogtebestand is, watter plante nie saam geplant moet word nie, in watter streek en seisoen watter plante aard, hoe om water op te gaar en weer te gebruik, en hoe om onkruid en peste vas te vat. Die skrywers se beste raad? Deel jou kennis met mekaar en leer uit mekaar se foute. Dit maak die eerste groente-oes soveel lekkerder!

Oor die outeurs

Johan van Zyl en Peter van Noord is gesoute joernaliste, redigeerders en vertalers. Hulle is die redakteurs van die tydskrif Platteland en self ook plattelanders. Johan is ook onder meer boekeredakteur van Rapport, oudredakteur van VISI en ʼn rubriekskrywer vir Kook & kuier. Peter was eers Afrikaansonderwyser, daarna hoofsubredakteur van Die Burger en sedert hy ʼn vryskutloopbaan aangedurf het, onder meer teksredakteur vir Weg en Weg Ry & Sleep. Hy is die samesteller van twee kortverhaalbundels en saam met Johan vertaal hy ook kos- en ander boeke.

Peter en Johan woon op Koringberg in die Swartland van waar hulle werk. Dis hier waar hulle groentetuin die stryd teen die ergste droogte in meer as ʼn eeu gewonne gegee het, hoewel hulle vol hoop is om binnekort weer uit hulle eie tuin te eet. Hulle boer ook op piepklein skaal met olywe en is veral trots op die olyfolie wat hulle voor die droogte geproduseer het. Maar ook in die olyfboord is daar hoop, en hopelik lewer 2019 weer ʼn geil oes op.

Uitgewer: Human & Rousseau Uitgewers
Prys: R325,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.