Soorte resepte:

Boek: Dik vir dieet

Dik-vir-Dieet-1000.jpgMariza van Zyl

Mense is behoorlik dik vir dieet – of is die huidige oorgewig-epidemie dalk juis die gevolg van diëte..? Oorgewig en ander chroniese toestande is aan die orde van die dag en die gevolg van ons moderne leefstyl, maar ook weens jare lange verkeerde raad – of só word gesê. Maar hoe moet ’n mens nou eintlik eet? Meer of minder vet? Wat van koolhidrate, of dan carbs: Is dit die groot sonde wat almal moet afsweer? Daar’s nog vele kosvraagstukke:  gluten, melk, vleis, vrugte, botter, kunsmatige versoeters, kos uit pakkies…

Watter formule is reg? Met dieetopsies te kus en te keur kan niemand jou kwalik neem as jy dalk soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks voel nie.

Moontlik is jy of iemand naby aan jou nou weliswaar net ’n skadu van julle voormalige self ná ’n suksesvolle blitsdieet, maar die vrae oor langtermyngesondheid knaag steeds. Dít en kwessies soos volhoubaarheid, beskostigbaarheid en die impak op ons planeet …

Genoeg is genoeg. Dit is tyd om ’n terugkeer te maak na die kern van die saak en die volgende vraag te beantwoord: waarom eet ons regtig? Natuurlik bly die kruks van die eet-saak – dis nou buiten antwoorde soos genot, frustrasie of medikasie – dat dit die aangewese manier is om lewensnoodsaaklike voedingstowwe in te neem. Voedingstowwe waarsonder jy nie, ongeag hoe ryk, maer of mooi jy is, lank siekteloos sal wees nie.

In hierdie maklik verteerbare boek verduidelik Mariza meer oor voedsel – dít wat goed en wat sleg is – en die fokus verskuif veel verder as net vet of maer word en koolhidrate en vette. As kennis mag is, sal Dik vir dieet jou in ’n japtrap verander van ’n dieetslaaf in ’n voorstaander van beter eetgewoontes – en elke mens se unieke behoeftes word in ag geneem. Op die koop toe sal die praktiese aanslag – wenke, resepte, ’n inkopiegids en nog baie meer – jou kosinkope -en kookvertwyfelinge fyn opsnipper.

Op unieke maniere word jy in Dik vir dieet gelei om kos én jou lyf beter te verstaan sonder om jou te verdrink in akademiese taal. Tog het die boek genoeg om die lyf om begrip en insig te gee sodat jy nooit weer met ’n mond vol tande hoef te staan as daar oor koskwessies gepraat word nie.

Oor die outeur

Mariza van Zyl (B.Sc. Dieetkunde, Universiteit Stellenbosch) is ’n geregistreerde dieetkundige en lid van die Vereniging van Dieetkundiges in Suid-Afrika (ADSA). Bykomend tot haar professionele kwalifikasie as dieetkundige is sy ook gekwalifiseer as spesialiskinesioloog én sy is ’n geakkrediteerde nutrigenomiese praktisyn. Sy het uitgebreide praktiese ondervinding van onder meer kliniese, terapeutiese- en gemeenskapsvoeding sowel as produkontwikkeling en die daarstelling van gesondheidstrategieë.

Haar rol as konsultant, onder meer vir markleiers in die voedsel-, gesondheids- en mediabedryf (soos Woolworths, die tydskrif Sarie en Medscheme) het bygedra tot ’n unieke insig en ondervinding as voedingskundige. Haar groot hartstog bly egter om gewone mense te besiel om ’n gesonde en gebalanseerde lewe te lei. Sy deel graag haar spesialiskennis deur middel van gereelde rubrieke in tydskrifte, op blogs, oor die radio én haar eie webwerf. Mariza is die stigter van BeterEet, ’n webgebaseerde voedingsopleidings-en-inligtingsplatform, en praktiseer in die Paarl.

Uitgewer: Naledi
Prys: R245.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.