Saamgestel deur Marlo Carstens
Met wie wil die ekonoom Dawie Roodt om ’n tafel kuier? Wat is die pianis Rocco de Villiers se trooskos? Waarmee bederf die sangeres Sonja Herholdt haarself?
Hierdie boek vertel jou alles!
Vrouekeur Sterkos – Kook saam met die sterre vertel ook meer oor gewilde Suid-Afrikaanse bekendes se kosfiemies en koslekkertes; boonop deel en ’n ieder en ’n elk hul gunstelingresep.
Dié boek volg op die suksesvolle kosrubriek “Sterkos” in Vrouekeur. Al die resepte is deur die kosredakteur en -stilis, Marlo Kitshoff-Carstens, beproef.
Probeer ’n bietjie resepte soos Pierre Greeff (van Die Heuwels Fantasties) se perfekte braaibroodjie, Tobie Cronjé se glutenvrye koek en Karlien van Jaarsveld se treffertunatert.
Daar’s ’n mengsel van soet en sout, eenvoudig en dekadent. Met dié resepte sal jy ook ’n ster in die kombuis wees!
Die samesteller:
Marlo Carstens, Vrouekeur se kosredakteur sedert die eerste uitgawe in Oktober 1999 lig gesien het, is ma van twee woelige seuns en verstaan die eise van vrou en ma wees. Dis daarom dat haar resepte enige vrou – selfs die wat sku is vir kosmaak – inspireer.
Haar boeke verkoop baie goed, in die 2014 boekjaar was hulle agtien keer op die Nielsen topverkoperlys.