Soorte resepte:

[Boek] Martelize kook! Jy’s genooi

Martelize-CoverMartelize Brink

Martelize Brink is een van daardie “larger than life”-mense. Dit is onmoontlik om ’n etiket om haar nek te hang. Omroeper, ja. Maar ook toerleier, marathon-deelnemer, ATKV-Mediaveertjiewenner, kanovaarder en deesdae selfs aktrise.

Kosmaak is Martelize se manier om te ontspan aan die einde van ’n dag. En met Martelize kook! Jy’s genooi kan sy nóg ’n vaardigheid op haar CV skryf: kosskrywer. In dié boek deel sy kos uit haar kinderdae, soos gaatjiebrood – ’n heerlike kampeer- en gesinsontbyt.

Dan volg ’n allegaartjie met onthaalkos, kuierkos en braai-kos, asook soetgoed en poedings. Elke resep is getoets en elkeen is anders. Anders, maar nie vreemd nie en sonder fieterjasies: Sy maak sosaties met blomkool en haloumi, vul ravioli met boerewors en ryg koeksisters op sosatiestokkies vir ’n soet braai.

Elke snoephappie en gereg is ideaal om met vriende te deel en só heelaand saam te kuier. En laataand kan jy die laaste bietjies in bakkies pak en saam met hulle huis toe stuur. Dis nou te sê as daar iets oorbly…

Oor die outeur

Die boompie is in die Paarl geplant en gebuig. En vyftien jaar gelede het sy haar eerste program op MFM, die Universiteit van Stellenbosch se kampusradiostasie, uitgesaai. Nadat sy ’n honneursgraad in politieke wetenskap verwerf het, het sy haar debuut op RSG gemaak. Sedertdien gesels Martelize land en sand oor enigiets op die lug – van kommandowurms tot tiervisvang. En natuurlik kos.

Martelize bly in Seepunt, naby die water en ’n klipgooi van die SAUK, haar werkplek. Soggens om 09:00 word die mikrofoon aangeskakel vir Oggend op RSG en ná 12:00 – wanneer die program eindig – beantwoord sy honderde e-posse, of ry die wêreld vol op soek na interessante Suid-Afrikaanse stories en nuwe resepte.

Wat maak haar gelukkig? Honde, perde, haar familie, vriende, kos, goeie rooiwyn en musiek.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R350.00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tina Buys ·

Sy is voorwaar n merkwaardige jong vrou, en hierdie boek kry beslis n plek op my boekrak.

Marinda ·

Wonderlik Martelize, ek gaan definitief hierdie boek aanskaf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.