Soorte resepte:

Boek-resensie: Smeul

Deur Louise Viljoen

Drie vroue, een kombuis. Hierdie is nie ‘n geval van “too many cooks spoil the broth” nie. Inteendeel, dié drie vriendinne, ‘n skrywer, bemarker en radioloog, kook saam dat die stoom trek.

Riana Scheepers, Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz het hulle kookvernuf en ander talente saamgesnoer en Smeul, ‘n kookboek met 110 trefferresepte, is die spogproduk wat monde laat water.

Die versameling resepte bevat opgekikkerde gunstelinge plus heelwat heerlike nuutskeppinge wat die smaakkliere laat bokspring. Die formidabele driemanskap het self gesorg vir die resep-ontwikkeling, stilering, fotografie en teks wat van Smeul so ‘n besondere resepteboek maak.

Die resepte is in vier afdelings opgedeel, naamlik Weergalose Weskus; Karooland, hartland; Diep, diep in die donker woud; en Sprokie vir ‘n stadskind. Die resepte verskyn aan die regterkant met die volbladfoto’s aan die linkerkant.

Ek het Smeul van die rak afgehaal want ek was op soek na ‘n resep vir biltongpatee. Toe ek my weer kon kry, was dit twee ure later. Die pragfoto’s is verleidelik en maak jou honger én lus. Die groot verskeidenheid resepte van oor die aardbol smeek om beproef te word. Dis egter die teks wat in sprankelende harts-Afrikaans geskryf is deur vroue wat kán, wat soos ‘n sagte karos oor my skouer kom lê het en ek het my skaamteloos verlustig aan hulle geselsies en vertellinge oor kos.

Smeul sorg vir weergalose gastronomiese ervarings vir dié wie se harte deur hulle mae loop. Jy trek jou voorskoot aan en loer oor die baasbaksters- en kokke se skouers terwyl jy leer botter karring en wors stop.

Hoe klink bolmakiesiepastei, nastergalkaaskoek, krapkerrie, Alpesoufflé en raita vir jou? Dalk voel jy na karamelkwepers met kaneel en tiemie, botterskorsie-en-soetpatatsop met grondboontjiebotter, murgpampoentjielinte met gerookte mossels en fillowiele met patat, kaviaar en suurroom. Indien al hierdie te eksoties na jou smaak is, kan jy steeds die lekkerste viskoekies, gestopte springbokboud, vrugtekoek en varktjops met heuning en bier probeer. My persoonlike gunstelinge is natuurlik pampoenkoekies, kruisementsjokoladepoeding en dik ertjiesop met gerookte varkskenkel.

Smeul is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word.

Uitgewers: LAPA Uitgewers
Prys: R300-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Louise Viljoen is ‘n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.