Soorte resepte:

Boekresensie: Botter en liefde

Anna Carolina Alberts

Ek wens ek het meer eksemplare van hierdie fantastiese resepteboek gehad. Ek wil na hartelus bak en brou uit die een kopie sonder om bekommerd te wees dat daar dalk meel op die bladsye beland. Een kopie hoort as pronkstuk op my koffietafel, want ek is van plan om absoluut skaamteloos daarmee te spog. Ek wil ook ’n kopie op my bedkassie neersit sodat ek rustig daardeur kan blaai en die pragfoto’s en vertellinge kan geniet. Dan wil ek ’n klomp kopieë weggee as geskenke aan spesiale mense.

Borrelende lewenslus straal uit die skrywer, Anna Carolina, se vriendelike gesig waar sy skaterlag op die voorblad met arms vol varsgeplukte mielies. Botter & LiefdeBoerekos uit ʼn plaaskombuis staan in goue letters bo haar kop geskryf. Die mooi voorblad vra dat jy die boek optel en wéér kyk. Dan die heerlike ontdekking – nie net is daar 80 allerheerlike, beproefde resepte in die boek nie, maar die bladsye is gevul met wonderlike onthou-foto’s en kosbare stories uit haar kinderjare.

“My naam is Anna Carolina Alberts en ek is amper in ’n hut gebore.” Die openingsin in die boek skep die gesellige trant waarop die skrywer jou nooi om in haar familie se plaaskombuis te kuier en ’n ryk koserfenis te ervaar. “Kom sit aan by ons tafel, skop jou skoene uit en kuier saam.”

Sy neem jou op ’n nostalgiese kook- en bakreis deur haar lewe en gesels land en sand oor die belangrike rol wat kos daarin speel. Sy skryf: “Ek het grootgeword met ’n AGA-stoof en die hitte wat jou omvou het wanneer jy die kombuis binnegekom het, was wonderlik koesterend.”

Anna Carolina dra die boek onder meer op aan “elke opgeklitste, oorgestimuleerde, gejaagde milleniër daar buite: Sit ’n oomblik, en gaan koop dan ’n pampoen en maak pampoenpoffertjies. Doen dit vir later se onthou.” “Soos alles in die lewe is die kos wat ons eet ook die hele tyd besig om te verander en te vernuwe.”

Sy streef graag eenvoud na en beveel aan: “Dat ons sal ophou om gestalte te probeer gee aan ’n vae idee van perfeksie en hard probeer byhou by elke neiging, maar eerder sal omhels waar ons vandaan kom. Dat ons dit wat reg onder ons neuse is, sal waardeer.”

Sy nooi jou om haar kindertyd te proe. Om te onthou dat melk, suiker en botter genoeg is vir ’n fees.

Só word Ouma Annie van Strydkraal se mieliepap vir ontbyt beskryf: “Daardie warm, klam, groot, growwe mieliemeelkrummels, saam met die dubbeldik bolaag room uit die wit porseleinbeker. Dít het Ouma dan geduldig met ’n vurk fyngemaak tot ’n dik, klonterige bord pap. Ouma het ’n swaar hand gehad met die suiker – net wat ’n kleinkind nodig gehad het!” Die foto van die bordjies mieliepap maak jou lus om sommer dadelik ’n pot pap op die stoof te kry, want jy ruik én proe al klaar daaraan in jou verbeelding.

Die tradisionele familieresepte word ingedeel in die volgende beskrywende hoofstukke: Plaasontbyt, ’n Propvol spens, Die gawe van die groentetuin, Sondagmiddagete, Nou gaan ons braai!, Jaguitstappies, Teetafel, Kersfeesvreugde en Basaars.

Hoe klink pap met suikermielies, sheba en boerewors vir jou? Dan is daar ook resepte vir knoffelmayonnaise, blomkool met kaassous, koolfrikkadelle, piesang-en-uie-slaai, wildspastei, heelneut-sjokoladekoek, churros met karamel en smaaklike kerriebredie. Dan praat ek nie eens van die wonderlike resepte vir boerbeskuit, gekookte mosterd, botterskorsiesop, geroosterde lamsblad, mieliebrood, potbrood, suurlemoen-en-papawersaadkoek, appelliefie-yskastert en roompoffertjies nie!

Dis g’n wonder dat Anna Carolina so wyd kan glimlag op die voorblad nie – haar kookkunserfenis is voorwaar besonders. Jy verstaan waarom sy wil hê dat haar toekomstige kinders “in die son sal kan sit en koejawels van die boom af eet”, want om te kan eet en geniet van dít wat die aarde ons gee, is ’n vreugde en ’n voorreg. Sy skryf: “Ek weet dat die terme ‘Afrikaner’ en ‘boerekos’ swaar dra aan die verlede se bagasie. Maar dit is deel van my storie. En ek glo dat as almal in hierdie wonderlike land die geleentheid kan kry, en bereid sal wees om na mekaar se stories te luister, ons saam ’n nuwe storie vir Suid-Afrika kan skryf. Een waarvan ek, en my kinders, graag ’n deel van sal wil wees – omdat ons is.”

Oor die outeur:
Anna Carolina Alberts het vroeër ’n sjefkursus en internskap in Franschhoek voltooi onder die bekwame leiding van Margot Janse en Chris Erasmus. Sy is mal oor ‘blogging’ en kosmedia, en is bekend vir haar maandelikse bydrae tot Pick n Pay se Kook en Kuier-tydskrif. Sy was ook die kosstilis op Just Cooking (BBC Lifestyle), Jenny and Reza’s Fabulous Cook Academy (Food Network), Neill Anthony Private Chef (SABC3) en Siba’s Table Season 2 (Food Network).

Bestel Botter & Liefde by www.quivertreepublications.com en ander toonaangewende boekhandelaars. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Butter & Love.

Koop die boek by Graffiti Boeke

Resensie deur Louise Viljoen
Louise is ’n resensent van Jeffreysbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nakkie die Nar ·

Geluk Anna en WELGEDAAN!
Hierdie gaan n WENNER wees!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.