Soorte resepte:

Braaiboy wil nuwe rekord opstel en deel resep

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Gareth Daniell, beter bekend as Braaiboy, het op 17 April 2009 begin braai en het vir die afgelope ses en half jaar nog nie een dag se braai gemis nie. Party dae braai hy sommer twee keer. “Jy eet elke dag, ek eet elke dag, maar ék eet net lekkerder,” sê hy.

Wat begin het as ʼn uitdaging deur sy vriende om elke dag vir ʼn jaar lank te braai, het toe sommer ’n patroon geword omdat hy dit so geniet het. Braaiboy sê hy braai en reis vir ʼn lewe. “Ek het ʼn paar sakeondernemings gehad, maar toe verkoop ek alles en besluit om te braai en die wêreld plat te reis.”

Dié braaikoning het in 2013 ʼn rekord opgestel vir die langste braai van 62 uur, maar sy rekord is ongelukkig deur ʼn Amerikaner gebreek. Braaiboy sê hy gaan in Desember sy titel probeer terugwen en beplan om vir 100 uur aanhoudend te braai.

Vir Erfenisdag môre gaan hy probeer om ʼn nuwe rekord op te stel deur 60 verskillende soorte vleis op een slag te braai. “ Dis 60 spesies, alles van krokodil tot bees, haas en skaap.”

Vir Braaiboy gaan braai eintlik oor die tyd wat jy saam mense deurbring. “Ek eet veel eerder ʼn hoendervlerkie saam ʼn goeie vriend as wat ek alleen sit en biefstuk eet.”

Braaiboy deel ook een van sy gunsteling-resepte: die sogenaamde braai-paai.

Jy benodig ’n rooster wat jy op verskillende vasknypvlakke kan stel.

Vir 6 tot 8 mense

Bestanddele:

  • 2 rolle skilferkorsdeeg
  • 1 pak spinasie
  • 3 gerookte hoenderborsies
  • 1 pak spek
  • 1 klein ui
  • ½ rooi soetrissie – gekerf na smaak
  • ½ geel soetrissie – gekerf
  • 250 g sampioene
  • cheddar- en mozzarella-kaas na smaak (gerasper)

 Metode:

  1. Ontvries die deeg en rol die eerste een uit op die rooster.
    (Wenk: laat die deeg vanself ontvries eerder as in die mikrogolf om te voorkom dat dit pap raak en gebruik kleefsproei op die rooster voor jy die deeg daarop plaas.)
  2. Braai uie, spek en soetrissies saam, en as jy vars hoender gebruik, braai die hoender afsonderlik.
  3. Plaas die helfte van die rou spinasie op deeg. (Wenk: Maak seker dat die spinasie behoorlik droog is voordat dit op die deeg geplaas word.Hoe minder vog voor jy begin, hoe beter.)
  4. Sny hoender in stukke en plaas dit op die spinasie.
  5. Voeg mengsel met uie, soetrissie en spek by.
  6. Kap en voeg die sampioene by.
  7. Voeg die gerasperde kaas by.
  8. Voeg die res van die spinasie by.
  9. Plaas die tweede rol van die deeg bo-op.
  10. Verseël die deeg (asof jy ’n pastei maak). (Wenk: Smeer die deeg met eiergeel vir daardie ekstra goudbruin effek.)
  11. Plaas dit hoog op die vuur en draai voortdurend. Braai tot goudbruin.

Besoek gerus Braaiboy se Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.