Soorte resepte:

Aartappeltjies met gekookte mosterdslaaisous

Lewer 8 porsies

Bestanddele:
1 kg jong aartappeltjies in die skil
125 ml (½ k) gekapte grasuie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
gemaalde neutmuskaat na smaak

Slaaisous:
1 eier
20 ml (4 t) koekmeel
100 ml suiker
7,5 ml (1½ t) mosterdpoeier
80 ml (1⅓ t) wit druiweasyn
175 ml hoenderaftreksel
250 ml (1 k) vars room of suurroom

Metode:
1. Was die aartappels en kook dit in soutwater tot gaar maar nog ferm. Dreineer en laat dit afkoel. Halveer elke aartappeltjie.
2. Slaaisous: Klits al die bestanddele, behalwe die room, saam. Verhit die mengsel in ‘n dubbelkastrol en prut vir 3 minute, terwyl dit heeltyd geroer word.
3. Roer die room by en geur na smaak met sout en peper. Laat dit afkoel.
4. Meng die grasuie mt die aartappels en geur dit met sout, peper en neutmuskaat.
5. Giet van die sous oor die aartappels. Sit dit saam met die orige sous teen kamertemperatuur voor. Die aartappeltjies is ‘n lekker slaai met koue skaapboud. Dit kan ook as ‘n vegetariese of ligte maaltyd voorgesit word.

Wenke:
* Die slaai is die volgende dag net so lekker.
* Die slaaisous is heerlik vir ‘n noedelslaai, broodslaai of as ‘n doopsous. Dit kan ook oor geblansjeerde broccoli, dun groenboontjies of klein gaar uitjies gegiet word.

Variasies:
* Vervang die jong aartappels met 8 middelslag-aartappels, geskil en in dik skywe gesny.
* Roer 2.5 ml (½ t) matige kerriepoeier of 30 ml (2 e) aangemaakte korrelmosterd by die slaaisous.
* Voeg gebraaide spek by die aartappels.
* Voeg gaar hoender, gerookte ham of salami, songedroogde tamaties en olywe by die aartappels en garneer dit met Parmesaankrulle. Sit dit as ligte ete voor.
* Vir ‘n vegetariese ete kan hardgekookte eiers, in kwarte gesny, en spinasie- en roketblare as deel van die slaai voorgesit word.

Oorspronklik gepubliseer in Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landboue-unie. Uitgegee deur Lapa, 2011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.