Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Quinoa-en-geelperskeslaai

Quinoa-en-geelperskeslaai (Foto: Verskaf)

“Pak jou kinders se kosblikke asook jou eie ete met hierdie heerlike voedsame slaai en ’n stukkie kouevleis,” sê Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn Twist.

Wat is quinoa?

Dit is ’n piepklein saadjie van Peru en word uitgespreek as “keen-wah en nie “quinn-oh-ah” nie. Quinoa bevat al nege essensiële aminosure wat dit die perfekte vervanger vir dierlike proteïene in ’n dieet maak. Dit bevat ongeveer 15 g proteïene en 35 g koolhidrate per 100 g bedieningsporsie.

Dit kook baie vinnig gaar en die smaak is krakerig met ’n neutagtige nasmaak. Dit kan ook as meel gebruik word en verskeie soet en sout gebak kan daarvan gemaak word. Dus is hierdie saadjie veeldoelig in baie opsigte.

Vandag maak ons heerlike slaai. Indien jy nie toegang tot quinoa het nie, kan jy ook koeskoes in die plek daarvan gebruik (sien wenk onder aan teks).

Quinoa-en-geelperskeslaai

Bestanddele

  • 12 gedroogde geelperske halwes, gesnipper
  • 250 ml kookwater
  • 250 ml (1 k) quinoa
  • 500 ml (2 k) water
  • ½ groenteaftrekselblokkie
  • 125 g sampioene
  • 5 ml fyn knoffel
  • 100 ml olyfolie
  • 1 lang seldery stingel, fyn gesny
  • 3 stingels sprietuie
  • 2 paprika-vruggies in ringe gesny of vervang met 1 groot soetrissie
  • 125 ml (½ k) ertjies

Metode

  1. Plaas die perskes in die kookwater en bedek, laat afkoel. Plaas die quinoa in kastrol en voeg 500 ml water daarby asook die aftrekselblokkie. Kook vir 15 minute totdat die water alles geabsorbeer is.
  2. Terwyl die quinoa kook, braai die sampioene in olyfolie tot vog uit is vir vyf minute en voeg dan die knoffel by en roerbraai vir een minuut. Skep die gedreineerde perskes by die sampioene en roerbraai nog ’n minuut en laat eenkant afkoel.
  3. Sodra die quinoa gaar is, roer die sampioenmengsel by en roer goed deur om al die pansouse op te neem.
  4. Meng dan al die ander bestanddele by asook die slaaisous. Roer goed deur en laat oornag marineer.

Slaaisous

Bestanddele

  • 250 ml karringmelk
  • 125 ml (½ k) mayonnaise
  • 3 e sagte bruinsuiker of molassestroop
  • 40 g bloukaas, gekrummel (opsioneel)
  • 3 e fyn grondboontjiebotter
  • 3 e vars tiemie of 1 e gedroog
  • Sout en peper na smaak

Metode

  1. Meng alles saam en laat eenkant.

Wenk: Indien jy nie quinoa het nie, maak koeskoes: gebruik gelyke dele koeskoes tot water. Verhit eers die water met 2 e olyfolie en ¼ blokkie aftreksel. Sodra water kook, voeg die koeskoes by en roer deur. Haal kastrol van plaat en laat staan vir 10 minute om uit te sit. Gebruik dan net so in resep.

Bedieningsvoorstel: Bedien saam met vis, hoender of stukkies beeslendeskyf, warm of koud.

Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Besoek hier Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.