Soorte resepte:

[Resep] Biltong-, gekaramelliseerde uie- en bloukaas-quiches

Quiches

Foto: Lekker en Vinnig

(Deur: Tania de Kock)

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 400 g (1 rol) blaardeeg
  • 30 ml olie
  • 2 groot uie, gehalveer en gesny
  • 20 ml balsamiese asyn
  • 125 ml suiker
  • 100 g fyngesnyde biltong
  • 30 ml gekapte vars pietersielie
  • 200 g bloukaas, fyngekrummel
  • 4 eiers, geklits
  • 250 ml room
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n “jumbo”-muffinpan met kleefwerende kossproei.
  2. Rol die blaardeeg effens op ’n meelbestrooide oppervlak uit en druk sirkels wat in die muffinholtes sal pas uit die deeg. Druk die deegsirkels in die muffinholtes en voer met bakpapiersirkels. Vul die holtes met droë boontjies en bak blind vir 15 minute. Verwyder die boontjies en bakpapier en bak vir nog 5 minute. Verwyder uit die oond en hou eenkant.
  3. Verhit die olie in ’n pan en braai die uie liggies tot deurskynend. Voeg die balsamiese asyn by en braai vir nog 5 minute. Voeg die suiker by die mengsel en roer aanhoudend tot die suiker opgelos het. Voeg ’n klein bietjie water by indien nodig. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
  4. Vul die deegdoppies met die biltong en gekaramelliseerde uie en strooi die pietersielie oor.
  5. Klits die bloukaas, eiers, room, sout en peper saam. Giet die mengsel oor die biltong-en-uiemengsel.
  6. Bak die quiches vir ongeveer 20 minute tot goudkleurig en gaar.

Bron: Lekker en Vinnig – Biltonggeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.