Soorte resepte:

[Resep] Botterskorsie-&-blomkoolkoekies

Botterskorsie-en-blomkoolkoekies (Foto: Verskaf)

’n Blink idee met ’n bygereg kan ver strek – selfs tot in ’n kosblik. Soms is ’n lekker interessante bygereg net die manier om ’n aandete so ʼn bietjie nuwe woema te gee.

Hierdie resep is ’n kombinasie tussen ’n variasie op kapokaartappels en pampoenkoekies. Kapokaartappels word beslis nie meer net met aartappels gemaak nie. Het jy al patats of botterskorsie probeer? Net so hoef pampoenkoekies nie net met fyngedrukte pampoen gemaak te word nie. My gesin is dol oor pampoenkoekies wat met botterskorsie gemaak word, want dis dikwels soeter en minder waterig.

Probeer gerus ’n kapok wat met botterskorsie en blomkool gemaak is en as jy sommer uit die staanspoor genoeg groente vir kapok met aandete maak, is dit vinnig om die plaatkoekies te braai. Al wat jy nog nodig het, is ’n bietjie volkoringmeel, bakpoeier en eiers en geurmiddels. Jy kan selfs van die begin af die botterskorsie-en-blomkoolkoekies as bygereg maak, want jou gesin gaan dit beslis geniet. Gebruik verskillende geurmiddels met die twee soorte groentes. Vars kruie, neutmuskaat, gemengde speserye, kaneel en selfs paprika sal werk.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 12 – 15 koekies

Bestanddele:

  • 400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 200 g blomkool, in klein blommetjies gesny
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 2 takkies vars tiemie
  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • knippie gemaalde neutmuskaat of gemaalde gemengde speserye
  • 2 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 15 ml (1 e) gekapte vars tiemieblare
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie, vir braai

Metode:

  1. Plaas botterskorsie, blomkool, sout en tiemietakkies in ’n kastrol met sowat 300 ml water. (’n AMC 20 cm Low werk goed). Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut vir 20 minute of tot die groente sag is.
  2. Dreineer deeglik. Plaas groente terug in die kastrol op die stoof oor matige hitte en laat vir ’n paar minute stoom om enige ekstra vloeistof uit te kook.
  3. Haal van die hitte af. Druk groente met ’n aartappeldrukker of vurk fyn. Laat ’n paar minute afkoel.
  4. Roer die droë bestanddele en eiers by die groente. Geur met tiemieblare, suurlemoensap en peper. Roer tot ’n beslag vorm.
  5. Verhit ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (soos ’n AMC 24 cm Chef’s Pan). Drup lepelsvol van die beslag in die pan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier. Herhaal met orige olie en beslag.
  6. Sit warm voor as bygereg of pak in ’n kosblik en geniet teen kamertemperatuur.

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, kykNET-kanaal 144, vir nog heerlike resepte uit Heleen se kombuis. As jy dit gemis het, kan jy dit op haar nuwe webwerf kry, www.heleenmeyer.co.za of volg haar op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die insetsel weer te kyk asook vir nog wenke en resepte om gesond en lekker te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.