Soorte resepte:

[Resep] Filotert met spinasie, bone en feta

Filotert met spinasie, bone en feta. Foto: Verskaf

Nog ʼn langnaweek, nog ʼn lekker kans vir eet en kuier. Hierdie filotert is ewe geskik vir ʼn kosblik of as ʼn lekker iets-te-ete vir die langnaweek. Die kors is met filo gemaak en dus heelwat ligter as ʼn ander souttert met ʼn swaar deegkors. Dit het ʼn geurige vulsel van spinasie, feta en bone met ʼn heerlike skeut neutmuskaat. Die bone is dalk ʼn minder bekende bestanddeel in ʼn souttert, maar regtig lekker en ʼn slim manier om bone deel te maak van jul etes.

Onthou om enige ete altyd gebalanseerd te hou, so sit die filotert met ʼn lekker slaai of bordvol groente en seisoenale vrugte voor. Sprinkel neute of sade oor die slaai of geniet avokado, wat nou weer in seisoen is, daarmee saam om ʼn vullende en voedsame maaltyd te maak.

Resep saamgestel uit Bone Renaissance (van die DPO) en Cooking from the Heart 1

Bestanddele:

  • 6-8 velle filodeeg, ontdooi
  • olyfolie om deeg mee te verf
  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, gekap
  • 100 g babaspinasieblare of 2 groot blare, in dun repies gesny
  • suurlemoensap, sout en peper
  • 4 ekstra groot Nulaid-eiers
  • 250 ml (1 k) melk
  • 5 ml (1 t) neutmuskaat of paprika of 2,5 ml (½ t) gerookte paprika
  • 250 ml (1 k) gaar witbone, bv cannellini-bone (sien wenk)
  • 1 skyf fetakaas, in blokkies gesny

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180°C.
  2. Plaas filodeeg op ʼn werksoppervlak en verf een vel met olyfolie. Plaas nog ʼn vel bo-oor en verf met nog ʼn bietjie olie.
  3. Voer ’n 26 cm-tertbak met die filo uit, sodat die punte oor die rand van die bak steek. Herhaal nou die proses met nog geverfde velle en plaas die lae oor mekaar, sodat die hele bak eweredig uitgevoer is.
  4. Verhit die 15 ml olie in ʼn groot braaipan (ʼn AMC 24 cm Chef’s Pan werk goed). Soteer die ui oor matige hitte tot sag. Voeg spinasie by en soteer tot net sag. Geur met suurlemoen, sout en peper.
  5. Klits eiers, melk en neutmuskaat saam en geur na smaak.
  6. Skep die bone met die spinasiemengsel en feta in die filobasis. Skink eiermengsel oor en bak vir 30-35 minute of tot die filo bros en goudbruin is en die eiermengsel gestol het.
  7. Sny in skywe en sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Wenk:

  1. Gebruik geblikte bone of kook die bone self. Week die bone oornag in genoeg water. Sit die bone met genoeg vars water, maar sonder enige sout, in ʼn kastrol en prut baie stadig, tot die bone gaar is. Dit neem sowat 1-2 ure, afhangend van die tipe bone. Kook sommer genoeg bone vir meer as een ete, want dit vries baie goed in die kookvloeistof.
  2. Moenie enige iets by die bone se water voeg, soos koeksoda, asyn, sout of enige iets anders nie – dit verhoed dat die bone sag word. Sout en bestanddele soos tamaties moet eers by die gaar bone gevoeg word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E.K. ·

Byna iets soos Griekse dis: Spanakopita – byvoeging van bone maak dit seker dan… bonekopita? Ook seker bietjie eer vllend met byvoeging van die bone!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.