Soorte resepte:

Resep: Gebakte pannekoekies

Gebakte pannekoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Deftige gebruik van pannekoek saam met sampioene, spinasie, Marmite en kaas. Heerlik vir ʼn voorgereg of ligte maaltyd.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • Gebruik ‘n basiese pannekoekresep vir die pannekoekies se beslag.
  • 1 e (15 ml) gekapte vars grasuie
  • 1 e (15 ml) pietersielie
  • 1 e (15 ml) sonneblomolie

VULSEL

  • 40 g (3 e) ongesoute botter
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 300 g spinasie, gewas, wit stingels verwyder en droog gemaak
  • sout en witpeper na smaak
  • 200 g knopiesampioene, in dun skyfies gesny
  • 3 ml Marmite
  • 2 ml worcestersous
  • 50 g Gruyèrekaas, fyngerasper

ROOM-EN-KAASSOUS

  • 400 ml room
  • knippie varsgerasperde neutmuskaat
  • sout en witpeper na smaak
  • 50 g Gruyèrekaas, fyngerasper

Metode

  1. Giet die basiese pannekoekbeslag in ʼn bak en roer die gekapte grasuie en pietersielie by.
  2. Bedek die beslag met kleefplastiek en hou eenkant tot benodig.
  3. Verhit ʼn pannekoekpannetjie oor matige hitte. Voeg 1 t (5 ml) olie in die pan en kantel die pan tot die hele bodem van die pan met olie bedek is.
  4. Skep net genoeg van die beslag in die warm pan en kantel die pan sodat die beslag die bodem bedek. Probeer om pannekoekies so dun moontlik te maak.
  5. Bak vir 15-20 sekondes tot die onderkant van die pannekoek bruin is. Keer die pannekoek om en bak weer vir 15-20 sekondes tot die onderkant van die pannekoek bruin is.
  6. Plaas die pannekoekies bo­op mekaar op ʼn omgekeerde sopbord (dit verhoed dat die pannekoekies sweet en vog trek). Bak die res van die pannekoekies met die orige beslag en gebruik ekstra olie soos nodig.
  7. Voorverhit die oond tot 200 °C.

VULSEL

  1. Smelt die helfte van die botter in ʼn swaarboomkastrol en braai die knoffel en spinasie vir 2 minute oor hoë Geur met sout en peper.
  2. Gebruik die agterkant van ʼn houtlepel om die vog uit die spinasie te druk. Skep die spinasie uit en hou eenkant.
  3. Smelt die res van die botter in ʼn middelslagpan en braai die sampioene vir 2 minute. Geur dit met die Marmite, worcestersous, sout en peper. Meng die sampioene met die spinasie en strooi die Gruyèrekaas oor.
  4. Skep die vulsel op elk van die pannekoekies, rol dit styf op en pak dit teen mekaar in ʼn oondvaste bak.
  5. Sous: Giet die room in ʼn swaarboomkastrol en verhit tot dit liggies prut. Voeg die neutmuskaat, sout en peper by en verwyder die room van die hitte.
  6. Giet die sous oor die pannekoekies in die oondbak en strooi die kaas oor die dis. Bak vir 20 minute of tot die bokant goudbruin is.

Wenk

ʼn Heerlike voorgereg of ligte maaltyd – en ʼn skeut worcestersous in die vulsel of die roomsous is ʼn toorstok.

 

Bron: Koljander, koljander so deur die Bosch

Uitgewers: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.