ʼn Deftige gebruik van pannekoek saam met sampioene, spinasie, Marmite en kaas. Heerlik vir ʼn voorgereg of ligte maaltyd.
Lewer 4 porsies
Bestanddele
- Gebruik ‘n basiese pannekoekresep vir die pannekoekies se beslag.
- 1 e (15 ml) gekapte vars grasuie
- 1 e (15 ml) pietersielie
- 1 e (15 ml) sonneblomolie
VULSEL
- 40 g (3 e) ongesoute botter
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 300 g spinasie, gewas, wit stingels verwyder en droog gemaak
- sout en witpeper na smaak
- 200 g knopiesampioene, in dun skyfies gesny
- 3 ml Marmite
- 2 ml worcestersous
- 50 g Gruyèrekaas, fyngerasper
ROOM-EN-KAASSOUS
- 400 ml room
- knippie varsgerasperde neutmuskaat
- sout en witpeper na smaak
- 50 g Gruyèrekaas, fyngerasper
Metode
- Giet die basiese pannekoekbeslag in ʼn bak en roer die gekapte grasuie en pietersielie by.
- Bedek die beslag met kleefplastiek en hou eenkant tot benodig.
- Verhit ʼn pannekoekpannetjie oor matige hitte. Voeg 1 t (5 ml) olie in die pan en kantel die pan tot die hele bodem van die pan met olie bedek is.
- Skep net genoeg van die beslag in die warm pan en kantel die pan sodat die beslag die bodem bedek. Probeer om pannekoekies so dun moontlik te maak.
- Bak vir 15-20 sekondes tot die onderkant van die pannekoek bruin is. Keer die pannekoek om en bak weer vir 15-20 sekondes tot die onderkant van die pannekoek bruin is.
- Plaas die pannekoekies boop mekaar op ʼn omgekeerde sopbord (dit verhoed dat die pannekoekies sweet en vog trek). Bak die res van die pannekoekies met die orige beslag en gebruik ekstra olie soos nodig.
- Voorverhit die oond tot 200 °C.
VULSEL
- Smelt die helfte van die botter in ʼn swaarboomkastrol en braai die knoffel en spinasie vir 2 minute oor hoë Geur met sout en peper.
- Gebruik die agterkant van ʼn houtlepel om die vog uit die spinasie te druk. Skep die spinasie uit en hou eenkant.
- Smelt die res van die botter in ʼn middelslagpan en braai die sampioene vir 2 minute. Geur dit met die Marmite, worcestersous, sout en peper. Meng die sampioene met die spinasie en strooi die Gruyèrekaas oor.
- Skep die vulsel op elk van die pannekoekies, rol dit styf op en pak dit teen mekaar in ʼn oondvaste bak.
- Sous: Giet die room in ʼn swaarboomkastrol en verhit tot dit liggies prut. Voeg die neutmuskaat, sout en peper by en verwyder die room van die hitte.
- Giet die sous oor die pannekoekies in die oondbak en strooi die kaas oor die dis. Bak vir 20 minute of tot die bokant goudbruin is.
Wenk
ʼn Heerlike voorgereg of ligte maaltyd – en ʼn skeut worcestersous in die vulsel of die roomsous is ʼn toorstok.
Bron: Koljander, koljander so deur die Bosch
Uitgewers: Lapa