“As kind het ons as familie ten minste een keer per week hardgekookte eiers of ʼn eierdis vir middagete of ʼn ligte aandete geniet. Die gereg is ideaal as peuselhappies of voorgereg,” skryf Francois Ferreira in sy resepteboek, Koskaskos.
Lewer 4 porsies
Bestanddele
- 10 ml olie
- 2 preie, gewas en fyngekap
- 10 ml kerriepasta
- 1 ml borrie
- 90 ml mayonnaise
- 4-6 snye witbrood
- botter
- 3 hardgekookte eiers, elk in 6 eweredige skyfies gesny
- ’n hand vol gekapte koljanderblare, as garnering
Metode
- Mayonnaise: Verhit die olie in ’n pan en laat die preie in die olie sweet sonder dat dit verkleur. Voeg die kerriepasta en borrie by.
- Braai dit baie liggies sodat die kerrie en borrie warm raak. Verwyder die pan van die hitte en laat tot kamertemperatuur afkoel. Voeg dan die mayonnaise by en meng goed.
- Rooster die snye brood en sny in 12 ewe groot sirkels. Botter die broodsirkels, rangskik die eierskyfies bo-op en bedruip met die kerriemayonnaise. Garneer met die koljanderblare en sit voor.
Bron: Koskaskos deur Francois Ferreira
Uitgewer: Lapa