Soorte resepte:

Resep: Hilda se spesiale pizza

Foto uit die boek "7de Laan vier fees!"

Foto uit die boek “7de Laan vier fees!”

Hilda skryf:

“As dit rugbytyd is en die manne wil braai, steek Oubaas die vuur gewoonlik eers halftyd aan. Maar soos die senuwees begin knaag, knaag die hongerpyne mos saam. So, jy het maar altyd ‘n eetdingetjie nodig voor die kole reg is. Mens wil ook nie sukkel met messe en vurke voor die TV nie, so hierdie pizza-peuselhappies is ideaal, want almal kan dit al kykende sommerso met die hand eet. Jy kan dit heeltemal vegetaries hou, maar ek sit soms ‘n vleisigheidjie by vir die manne. By die deli het ons die heerlikste vars mozzarella-balletjies (bocconcini) wat ek altyd gebruik. Maar gerasperde mozzarella werk net so goed.”

Lewer 6 – 8 porsies as happies

Bestanddele
meel om mee te besprinkel
400 g skilferkorsdeeg, heeltemal ontdooi
1 x 50 g-sakkie tamatiepasta
5 knoffelhuisies, fyngekap
250 g chorizo-worsies of salami, in skywe gesny
250 g klein tamaties, gehalveer (probeer bella-tamaties kry)
300 g bocconcini (vars mozzarella-balletjies), geskeur
100 g ontpitte kalamata-olywe
growwe sout na smaak
olyfolie om mee te besprinkel
125 ml (½ k) vars basiliekruid
250 ml (1 k) wilderoket

Metode
1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas bakpapier op ‘n groot bakplaat en bestrooi dit met meel.
2. Die gekoopte skilferkorsdeeg moet heeltemal ontdooi wees. Die beste is om dit in die yskas te laat ontdooi, anders word dit te warm. Rol die deeg uit tot ‘n reghoek van nagenoeg 30 x 45 cm. Jy moet dit genoeg uitrol, anders pof die deeg te veel op. Sit die uitgerolde deeg op die voorbereide bakplaat en vou die rande op sodat dit as’t ware ‘n groot bak vorm. Dit is om te voorkom dat enige van die vulsel oor die rande loop. Steek die hele oppervlak van die deeg met ‘n vurk, plaas in die oond en bak 8 – 10 minute, of tot bros en goudbruin. Verwyder en verlaag die oond se hitte tot 180 °C.
3. Smeer die tamatiepasta oor die gebakte basis en strooi die knoffel oor. Rangskik die chorizo-skyfies, gehalveerde tamaties en geskeurde mozarella-balletjies eweredig daarop. Strooi die olywe oor die pizza, maal growwe sout na smaak oor en besprinkel met olyfolie. Sit in die oond en bak 10 – 15 minute of tot die bestanddele op die pizza gaar genoeg na jou smaak is. Verwyder en strooi basiliekruidblare en wilderoket oor die pizza. Besprinkel dit ook met nog ‘n bietjie olyfolie.
4. Sny in die grootte porsies van jou keuse en sit net so voor as ‘n voorafhappie. Jy kan dit ook met ‘n slaai as ‘n ligte middagete voorsit.

Wenk:
As jy nie ontpitte olywe kan kry nie of nie ‘n ontpitdingetjie het nie, is daar ‘n maklike manier van doen: Vat ‘n platboomkoppie of -bakkie en slaan saggies daarmee op die olyf sodat dit oopbars. Verwyder dan die pit.

Resep oorspronklik gepubliseer in 7de Laan vier fees!
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R265-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.