Soorte resepte:

Resep: Hoe om tamatiesous te maak

(Foto: Pixabay)

Jy kan maklik jou eie tamatiesous maak!

Lewer 500 ml tamatiesous

Bestanddele

  • 15 ml olyfolie
  • 1 middelgroot ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 2 blikkies Italiaanse tamaties, met ʼn lepel fyngedruk om dit op te breek
  • 1 bouquet garni
  • 2 ml balsamiese asyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 3 takkies pietersielie

Metode

  1. Verhit die olyfolie in ’n kastrol en laat die ui liggies daarin sweet totdat dit deurskynend raak.
  2. Voeg die knoffel by en verhit dit ongeveer 1 minuut lank.
  3. Voeg die fyngedrukte tamaties by.
  4. Sodra die tamaties saggies prut, voeg die bouquet garni en balsamiese asyn by.
  5. Laat die sous sowat 20 minute lank sonder ʼn deksel prut.
  6. Geur na smaak en haal die kastrol van die stoof af.
  7. Voeg die takkies pietersielie by en laat die sous afkoel

Wenk: Voeg die pietersielie heel aan die einde by terwyl die sous besig is om af te koel, anders sal die hitte die delikate geur van die krui vernietig.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vis- en seekos kookboek deur Susina Jooste en Henk Stander

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

WL ·

Hierdie resep is die klassieke Italiaanse tamatiesous resep, wat in verskeie pasta geregte voorkom. Moet dit nie verwar met ‘n tuisgemaakte “ketchup” resep soos op die foto nie.

Bouquet Garni ·

Zaan dit is ‘n bondeltjie vars kruie wat met kombuistou saamgebind word om kos te geur gedurende die kookproses. Vars geplukte takkies tiemie, lourierblare, pietersielie en roosmaryn kan byvoorbeeld gebruik word om ‘n bouquet garni te maak. Ek koop nooit die bouquet garni in die winkels wat van gedroogde kruie gemaak word nie maar maak dit altyd self met vars kruie uit die kombuistuin. Gekoopte bouquet garni’s van gedroogde kruie is smaakloos en proe soos stof. Bon appetit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.