Soorte resepte:

[Resep] JOYA® appelhappies met grondboontjiebotter

JOYA® appelhappies met grondboontjiebotter (Foto: Verskaf)

Om jou kinders goeie en voedsame eetgewoontes aan te leer, is een van die grootste geskenke wat jy hulle kan gee. Daar is al hoe meer ’n verwantskap tussen kinders se eetgewoontes en leefstylsiektes later in hul lewens.

Hier is twee vinnige en maklike idees vir die hele gesin. Die appelhappies is selfs perfek vir daardie tye wanneer die kinders lus raak vir peusel en jy weet dat sjokolade of lekkergoed nie ideaal is vir helder breine nie.

Kies ferm, kraakvars appels vir die happies, want die natuurlike soet smaak van die appel dra beslis by tot die lekkerte hiervan. Dis so maklik om te maak my kinders maak dit sommer self. Gaan loer gerus op my webwerf na die blog om te sien hoe maklik dit is om saam te stel.

Die ander resep is ’n vinnig slaai-idee met ’n blikke rooi nierbone en ’n tuisgemaakte slaaisous, met speserye wat altyd heerlik is saam met bone.

Lewer 10-12 porsies

Bestanddele:

  • 1-2 JOYA® appels
  • 75 ml (5 e) grondboontjiebotter
  • 60 ml (¼ k) tuisgemaakte muesli
  • 60 ml (¼ k) gekapte neute, soos amandels
  • 30 ml (2 e) sonneblomsaad

Metode:

  1. Verwyder die kern van elke appel met ’n appelboor. Sny die heel appels elk in 5-6 skyfies om sirkels te vorm.
  2. Smeer elke appelskyf met grondboontjiebotter. Strooi muesli, neute en sade na smaak oor en geniet as ’n peuselhappie.
  3. Pak die elemente in aparte bakkies om dit deel te maak van ’n kosblik. Onthou om ʼn teelepel of messie vir die smeerwerk in te pak. Die appel kan vooraf opgesny word – onthou net om die skywe in ’n bietjie water af te spoel om te verhoed dat dit verkleur en doen die snywerk met ’n skerp groentemessie. Die appelhappies kan dan saamgestel word net voor dit geëet gaan word.

Wenke

  1. Laat jou kinders hulle eie appelhappies met neute en sade van hulle keuse voorberei.
  2. Maaskaas sal ook lekker wees in plaas van die grondboontjiebotter. Ander soorte neutbotter, soos amandelbotter werk uitstekend.

Slaai met rooi nierbone

’n Slaaisous kan ’n paar basiese slaaibestanddele in ’n feesmaal omskep – en veral ’n tuisgemaakte slaaisous. Hierdie slaaisous met speserye is perfek met bone.

Metode:

Meng 15 ml (1 e) suurlemoensap, 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie, 2,5 ml (½ t) gemaalde komyn, 5 ml (1 t) heuning (opsioneel) en ’n knippie gerookte paprika. Geur met swartpeper. Berei ’n slaai met 1 x 410 g-blik rooi nierbone, gedreineer; komkommer, in blokkies gesny; klein tamaties, gehalveer en ’n handvol vars koljanderblare.

Kyk op ’n Maandagoggend net na 07:00 na #Kosblik op kykNET se kanaal 145. Teken in op die blogs op my webwerf om gereeld nuwe resepte en idees te ontvang of volg my op Facebook https://www.facebook.com/HeleenMeyerFood/. Lekker kook!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.