Soorte resepte:

Resep: Kerrie-blomkoolsop

Kerrie-blomkoolosop (Foto: Lapa-uitgewers)

“Ek moet bieg dat blomkoolsop nie baie aptytlik klink nie, maar kyk net hoe mooi lyk dit op die foto! Gelukkig het blomkool die afgelope vyf jaar ’n comeback á la Demi Moore in Charlie’s Angels gemaak en is hierdie veelsydige groente weer op almal se lippe … letterlik. Dit is met goeie rede dat dit een van die banters se gunstelinge is. Die smaak is nie oorweldigend nie en dit neem enige geur aan. Lus vir ietsie met ’n Maleise geur?” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 1 groot blomkool
  • 3 heel knoffelhuisies
  • olyfolie
  • varsgemaalde sout en peper
  • 1 pak (200 g) spekvleis, gekap
  • botter
  • 1 bruinui, gekap
  • 1 prei, gesny
  • 1 t anyssade
  • 2 t geel kerriepoeier
  • 1 t fyn koljander
  • 1 t fyn komyn
  • 1 t borrie
  • 1 medium soetpatat, geskil en gekap
  • 1 ℓ hoenderaftreksel (goeie gehalte)
  • 1 blik (400ml) klappermelk

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Breek of sny die blomkool in stukke en plaas die blomkool en heel knoffelhuisies in ’n roosterbak. Jy kan selfs die stronk ook byvoeg. Gooi olyfolie oor die blomkool en strooi varsgemaalde sout en peper oor. Rooster vir 20-25 minute.
  3. Braai die spekvleis in ’n bietjie botter in ’n soppot tot lekker krakerig. Plaas eenkant tot benodig.
  4. Terwyl die blomkool rooster, braai die ui en prei saam met die anyssade en droë speserye in die spekvleisvet oor matige hitte om al die geure wakker te maak.
  5. Voeg die patat by en braai weer verder.
  6. Voeg die hoenderaftreksel by die groente en laat dit vir 10 minute oor ’n lae hitte prut.
  7. Sodra die blomkool klaar gerooster het, voeg dit saam met die klappermelk by die sop en laat alles vir 10 minute saam prut.
  8. Gebruik ’n handvoedselverwerker om die sop fyn te blits. Geur met varsgemaalde sout en peper na smaak.
  9. Sit voor met die krakerige spekvleisrepies en geroosterde banting-brood gesmeer met knoffelbotter.

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anja van der Merwe ·

Dagsê Mornay,

Dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig en kappermelk is by die bestanddele gevoeg.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.