Soorte resepte:

Resep: Klein lensieburgers

Klein lensieburgers (Foto: Verskaf)

Vele hande maak ligte werk veral as jou kinders tydens die vakansietyd help om hierdie maklike lensieburgers te maak. Lensies word soms vermy omdat mense die idee het dat dit vaal of vervelig is, maar met die regte resep en geurmiddels is dit ’n ander storie. Lensies het ’n ligte neuterige smaak en pas by verskeie vars bestanddele en bykomstighede soos guacamole en ongegeurde jogurt. Sit die burgers voor met ’n kraakvars kool-en-komkommerslaai wat bedruip is met suurlemoen-gegeurde avokado-olie – sien die wenk onderaan die resep vir meer besonderhede.

Resep uit Cooking from the Heart 1

Lewer 15 – 20 klein koekies

Bestanddele:

  • 1 x 410 g-blik bruin lensies (sien wenke)
  • 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 eiers
  • 75 ml (5 e) volkoringmeel
  • 1 wortel, gerasper
  • 15 ml (1 e) tamatiesous
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
  • 7,5 ml (½ e) gemaalde koljander
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • swartpeper na smaak
  • 15 ml (1 e) Westfalia- gewone avokado-olie vir braai

Metode:

  1. Druk lensies en bone met ’n vurk of aartappeldrukker fyn. Meng met die res van die bestanddele, behalwe die olie.
  2. Verhit ’n bietjie van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (gebruik die AMC 28 cm Chefs pan). Skep sowat 60 ml van die mengsel per koekie in die braaipan.
  3. Braai tot dit bo-op begin stol, draai om en braai tot goudbruin en gaar. Herhaal met die orige olie en mengsel.
  4. Sit voor as klein lensieburgers op volkoringpitas of -broodrolletjies met vars slaaibestanddele en ongegeurde jogurt of guacamole. En maak ’n vinnige kool-en-komkommerslaai – sien die wenk hieronder.

Wenke

  1. Geblikte lensies werk goed vir die resep of kook self lensies. Selfs gaar lensies wat dalk oorgebly het van ’n vorige ete kan gebruik word. Bruin lensies hoef nie geweek te word nie en kook gaar binne sowat 30-35 minute. Kook rou lensies soos rys, met 625 ml water vir elke 250 ml rou lensies. Gebruik 250-375 ml gaar lensies vir hierdie resep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.