Soorte resepte:

[Resep] Krummelpap en sous uit die mikrogolf

Foto: http://www.rainbowcooking.co.nz/

Maroela Media-leser Herman skryf: “Dit is geen gewone resep soos uit ’n resepteboek dié nie, en dit maak ruim voorsiening vir, soos ouma Joey dit gereeld gestel het, ‘van soveel gijt wil’.

“Min dinge is so lekker soos om vroegoggend in die winter by die kombuis van ’n Vrystaatse plaashuis in te stap en daai heerlike geur van die krummelpap te kry wat op die aga gaar word. Maar nie almal het ’n aga nie, en ook nie die tyd nie.

“Net so kan nie almal die sous op die braaivleisvuur in ’n driepootpot maak soos kommandeur Dirk Visser destyds by ons werkgeleenthede nie.

“Maar ’n mens kan baie naby daaraan kom met ’n mikrogolfoond.”

Bestanddele:

Pap

  • water
  • sout
  • mieliemeel

Sous

  • 1 ui
  • olie
  • 2 tamaties
  • sojasous of worcestersous
  • tamatiesous
  • blatjang
  • water
  • tamatiepoeier

Metode:

  1. Kook solank ’n bietjie water. Gooi ’n klompie sout – soveel gijt wil, in ’n glasbak. Gooi dan ’n klompie kookwater oor die sout. Die hoeveelheid kookwater sal afhang van hoeveel pap jy wil maak.
  2. Gooi dan die mieliemeel op die water, en roer dit. As jy dan reeds krummels kan bewerkstellig, weet jy dat jy die mengsel presies reg het. Maar as dit nog te slap is, moenie jou bekommer nie. As dit te styf is, gooi nog bietjies van die kookwater by.

Wenk: ’n Houtlepel se steel maak ’n gawe roerstok uit.

  1. Plaas in die mikrogolfoond en stel dit vir drie minute op hoog.
  2. Haal uit en roer weer. Die krummels behoort nou min of meer reg te vorm.
  3. Plaas terug in die mikrogolf vir so twee en ’n half minute, roer weer, en sluit weer af met so twee en ’n half minute in die mikrogolf. Roer nou tot die korrels die regte grootte het wat jy verkies.
  4. Eet met melk en suiker vir ontbyt.

Sous

  1. Kerf ’n ui in die bak waarin die sous gemaak word. Gooi ’n bietjie kookolie by en laat dit vir minstens ’n minuut in die mikrogolf “braai”.
  2. Kerf intussen ’n tamatie of twee en voeg sout by. Gooi ook ʼn bietjie sojasous of worcestersous, ʼn bietjie tamatiesous en ’n bietjie blatjang by.
  3. Voeg dit by die ui, en meng. Laat dit vir ’n minuut of twee kook.
  4. Voeg water by, soveel gijt wil, en tamatiepoeier, ook soveel gijt wil. Die hoeveelheid hang maar af van hoe dik jy die sous wil maak.

Wenk: ’n Mens kan allerlei dinge byvoeg, soos sampioene, of ’n groenmielie se pitte afstroop en saam met die sous gaarmaak, maar dis opsioneel. Die sampioene werk beter as ’n mens dit eers apart in botter gaarmaak, en dan die sampioene met die sousie wat gevorm het, in die mengsel gooi.

  1. Kook tot ’n mens seker is die sous is gaar, en dat dit min of meer die regte dikte het.
  2. Skep van die pap in die bord of bak, en gooi soveel gijt wil van die sous oor die pap.
  3. Eet en geniet. Dis nie die plaas en die aga se gelyke nie, maar jollie naby, en so kan ’n mens in die middel van ’n stad met ’n mikrogolf darem ook soos ’n koning eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.