Soorte resepte:

[Resep] Murgpam­poentjie-&-eierslaai met lensies

Murgpampoentjie-&-eierslaai met lensies. (Foto: Verskaf)

Murgpampoentjie-noedels is deesdae ’n gewilde alternatief vir pasta en is selfs lekker veelsydig, want dit hoef nie net ’n bygereg te wees nie. Kombineer dit met eier, lensies, kruisement en basiliekruidblare vir ’n geurige vegetariese maaltyd. Gebruik sommer ingemaakte lensies in ʼn blik om die ete vinnig voor te berei. Om die eierrepies te maak is ook regtig maklik. Onthou om ingemaakte lensies, veral vir ’n slaai, af te spoel voor dit gebruik word. Dit verwyder van die ekstra sout van die vloeistof waarin die lensies ingemaak word en was van die stysel af, om die lensies lekker lig en los te maak.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 4–6 porsies

Bestanddele:

  • 6-8 groot murgpampoentjies
  • 1 repie suurlemoenskil, met ’n groenteskiller gesny
  • 125 ml (½ k) bevrore ertjies, afgespoel
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 3-4 groot Nulaid-eiers
  • 1 x 410 g-blik bruin lensies, gedreineer
  • groot hand vol vars slaaiblare
  • hand vol elk vars kruisement- en basiliekruidblare
  • ricotta- of fetakaas, gekrummel

Metode

  1. Gebruik ’n groenteskiller om lang, dun repies murgpampoentjie te sny. Halveer dan die repies in die lengte om dunner repies te maak (soos noedels).
  2. Verhit 250-500 ml water in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Voeg murgpampoentjies en suurlemoenskil by en prut met die deksel vir 3 minute of tot net gaar. Voeg die ertjies by en prut 1 minuut.
  3. Dreineer deeglik en sit terug in die kastrol. Roer die olie by en geur met sout, suurlemoensap en peper. Laat afkoel.
  4. Berei intussen die eiers. Klits een eier met 15 ml water en geur met ’n knippie sout en peper.
  5. Verhit ʼn lagie olie oor matige hitte in ’n 20 cm-pan (gebruik ’n 24 cm- AMC Chef’s Pan) en bak ’n dun omelet tot net bo-op gestol.
  6. Draai om en bak vir ’n minuut aan die ander kant – amper soos wat jy ’n pannekoek sal bak. Skep uit en herhaal met die orige eiers.
  7. Laat omelette afkoel en sny in die helfte en dan in dun repies.
  8. Meng die groente, repies eier, lensies en slaai- en kruieblare in ’n slaaibak. Krummel kaas oor en geniet as ’n bygereg, ligte ete of pak in ’n kosblik as vegetariese maaltyd.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.