Soorte resepte:

[Resep] Pangebraaide groente met witbone

(Foto: Verskaf)

Groente is veelsydig en kan op soveel maniere ’n opwindende deel van ’n ete word om kleur, tekstuur en genoeg vitamiene en minerale in maaltyd in te sluit. Geroosterde of pangebraaide groente kan op vele maniere gebruik word. Sit dit net so as bygereg voor, meng dit met pasta of couscous of maak dit deel van ʼn slaai-pakkie soos in hierdie resep.

Die slaaipakkies is ’n lekker “vars” idee vir mense wat graag minder stysel wil eet. Vou die geroosterde groente met bone, feta, ’n bietjie pesto en pampoenpitte of sonneblomsade in die slaaiblare toe vir ’n smullekker ete. Die balsamiese asyn en olyfolie in die groente pas perfek by bone en gee die hele gereg ’n Italiaanse gevoel.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) avokado- of olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 250 g sampioene, in kwarte gesny (opsioneel)
  • 2 eiervrugte, met die skil in blokkies gesny
  • 4-5 murgpampoentjies, gehalveer en in skyfies gesny
  • 250 g kersietamaties, gehalveer
  • 45 ml (3 e) balsamiese asyn
  • 10 ml (2 t) gedroogde origanum of roosmaryn
  • 1 x 410 g-blik botter- of ander witboontjies, byvoorbeeld “haricot”, gedreineer
  • suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak
  • 30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of origanum
  • basiliekruidpesto, feta en pampoensade om mee voor te sit
  • botterslaaiblare om mee voor te sit

Metode:

  1. Voorverhit die helfte van die olie in ’n groot braaipan (gebruik ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of Electric Frying Pan om genoeg plek vir alles te hê). Braai ui en sampioene tot gaar en skep uit.
  2. Braai eiervrug in dieselfde pan tot goudbruin en amper gaar. Voeg ’n bietjie meer olie by, indien nodig.
  3. Voeg die res van die olie in die pan en braai murgpampoentjies tot net gaar. Roer die tamaties deur en soteer vir ʼn paar minute.
  4. Skep die ui en sampioene terug in die pan met die balsamiese asyn en gedroogde kruie. Verlaag hitte en prut vir ’n paar minute tot die groente alles gaar is, maar nie pap nie. Sit selfs ’n deksel vir ’n paar minute op as dit nodig is.
  5. Roer bone by en geur na smaak met suurlemoensap, sout en swartpeper. Roer die vars kruie by en sit voor as ’n bygereg of vegetariese ete.
  6. Pak dit so in ’n kosblik: Skep lepelsvol groente op groot botterslaaiblare met basiliekruidpesto, bietjie feta en pampoensade. Vou die slaaiblare soos ’n pakkie om die vulsel.

Wenke

  1. Tuna, oorskiet-hoender of avokado sal ook lekker wees saam met die groente.
  2. As die pan te klein is, werk dit goed om die groente in sarsies te soteer tot dit gaar is en alles dan saam te meng en te geur. Maak veral seker dat die eiervrug gaar is voor die ander sagter groente bygevoeg word.

 

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy hou van lekker kook en eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.