“Ek wou aanvanklik keto-pannekoeke gemaak het, maar dis onmoontlik. Ek het probeer, ek belowe, maar daar is net ’n paar dinge in hierdie lewe wat nie moontlik is nie en keto-pannekoeke is een van daai goed. Kom ek fokus eerder op wat moontlik is: ketoplaatkoekies of flapjacks soos die Amerikaners dit noem. En soos die Amerikaners, kan jy gerus hierdie plaatkoekies saam met brosgebraaide spekvleis bedien of met geklopte room en bessies,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.
Bestanddele
- 2 k pampoen
- 4 eiers
- 2 e roomkaas
- ¼ k volroommelk
- 1 t vanieljegeursel
- 1 t kaneel
- ½ k amandelmeel
- 1 e klappermeel
- ½ k erythritol
- 1 t xanthaangom
- botter
Metode
- Stoom die pampoen tot baie sag. Jy kan dit letterlik vir 5 minute in ʼn bedekte bakkie met ’n bietjie water in die mikrogolfoond doen.
- Dreineer die water en gebruik ’n vurk om die pampoen fyn te druk.
- Klits die eiers, roomkaas, melk en vanieljegeursel in ’n mengbak.
- Voeg die pampoen en kaneel by en klits weer tot baie glad.
- Roer die amandel- en klappermeel asook die erythritol by.
- Laat vir 5 minute eenkant staan sodat die klappermeel die mengsel effe kan laat verdik. Voeg die xanthaangom by en gebruik ʼn handvoedselverwerker om die mengsel te blits. Die xanthaangom word nou geaktiveer en die mengsel word lekker dik.
- Smelt die botter in ’n warm braaipan. Skep 1 e van die mengsel per plaatkoekie in die pan. Sodra die onderkant mooi bruin gebraai het, draai die plaatkoekie om en laat ook aan die ander kant gaar word. Herhaal vir die hele beslag.
- Stapel ’n hoop koekies op mekaar en bedien met ’n klontjie botter.
Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp
Uitgewer: Lapa
Is op banting en het hierdie pampoenkoekies gemaak. Het d resepteboek. Dis regtig nie lekker nie. Nie d tyd en moeite werd nie. Jammer!