Genoeg vir 4-6 mense as peuselhappie
“Ek is ’n groot ondersteuner van sampioene, knoffel en room op hul eie. Saam gee hulle ’n besonderse smaak of, soos Aristoteles sou sê, ‘Die geheel is groter as die som van sy dele’. Dit is ’n lekker voorhappie of bykos, asook ’n treffer om die laataand-‘atmosvuur’ wanneer jy ’n tweede keer braai,” sê Jan Braai.
Bestanddele
- 2 sopies botter
- 1 sopie olyfolie
- 1 ui (gekap)
- 4 huisies knoffel (fyngekap)
- 500 g heel sampioene (bruin sampioene, knopiesampioene of enige mengsel van lekker sampioene)
- 1 takkie tiemie (stingel uitgehaal)
- 1 teelepel sout
- ½ teelepel swartpeper
- 1 koppie room (250 ml-houertjie)
- snye brood (gerooster; opsioneel, om mee op te dien)
- 1 sopie fyngekapte pietersielie (opsioneel, om mee op te dien)
Metode
- Verhit die olie en die botter in ’n groot vuurvaste pan of potjie op ’n warm vuur, voeg die gekapte ui by en braai tot baie sag en bruin om die rande. Dit sal so 5 minute neem, maar afhang van hoe sterk die hitte is.
- Voeg die knoffel, sampioene en tiemie by. Braai tot die sampioene sag en bruin raak (jou pan moet baie warm wees, so moenie bang wees om ’n paar vlamme onder hom te hê nie). Aanvanklik kan dit dalk sukkel om al die sampioene in die pan te kry, maar hulle sal krimp namate hulle gaar word.
- Maal sout en peper oor, gooi die room by en kry die mengsel aan die kook. Laat die room vir ’n paar minute prut terwyl jy gereeld roer, tot die sous dik is. (Dit sal effens donkerder raak en ’n grys skakering soos die sampioene kry.) Jou tydsberekening is nogal belangrik: Jy moet die potjie of pan van die vuur afhaal wanneer die sous dik is, maar voordat te veel daarvan weggekook het. As jy nie tyd het om die hele koppie room te reduseer nie, gebruik net ’n halwe koppie, maar weet dat die ete nie heeltemal so lekker sal wees nie.
- Gebruik ’n groot lepel om die romerige sampioene op die geroosterde brood te skep en sit dadelik voor saam met fyngekapte pietersielie.
- Die gehalte van die brood wat jy gebruik, het ’n direkte uitwerking op die eindresultaat en hoeveel jy die gereg geniet. Deesdae het ons ’n wye verskeidenheid lekker brode in Suid-Afrika. Vergeleke met vleis is spesialis-brode redelik goedkoop, so koop die beste een wat jy kan kry. As jy effe onseker voel oor watter een om te koop, vra vir ’n suurdeegbrood. (’n Bunnychow is die uitsondering; daarvoor is jy veronderstel om ’n gewone, vars, wit supermarkbrood te gebruik.)
- Wanneer jy braaikos saam met ’n sny brood voorsit, behoort jy die brood aan die een kant te botter en dit oor medium kole tot goudbruin te rooster tydens die laaste paar minute van jou braai. Die idee is om dit saam met die res van die maaltyd reg te hê.
- Elke slag wanneer ek aanbeveel dat ’n gereg saam met brood voorgesit word, sal jy bonuspunte kry as jy vars gebraaide roosterkoek in plaas van brood gebruik. Ek gaan dit egter nie elke keer herhaal nie, want jy is mos intelligent en sal dit in gedagte hou.
Uit: Jan Braai Vegetaries
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R370-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke
Hoeveel is ‘n sopie in ml?
Sopie is seker soos n alkohol shot, seker so 35ml. Eerste keer in my hele lewe wat ek so resep sien met sopies. Verpes dit as dit n raai raai riepa spel is net om iets te maak.
weet jy wat maak ek…
chiken a la king sous. Room. Sampioene soveel soos jy wil en bacon. gooin in ‘n pan en braai eers wat gebraai moet word dan gooi ek die sous en room by tot dit lekker verdik het.
vat dan daai klein duur broodjie die Low or High GI brood pak dit op n oondpan en toast dit so in die oond.
As die brood lekker getoast het gooi ek dit oor die broodjies en dan lekker kaas en sit terug in die oond tot kaas gesmelt is. dit is letterlik ‘n ete op sy eie.