Soorte resepte:

[Resep] Slaai met rooi nierbone en mielies met ʼn Meksikaanse geur

Foto: Verskaf

Paasnaweek is om die draai en is dikwels ʼn tyd van samesyn en moontlik ʼn tafel vol familie en vriende. Hierdie samesyn is vir my een van die lekkerste aspekte van ʼn ete. Ek hoop vandag se resepte sal dit vir jou moontlik maak om die komende langnaweek soveel as moontlik saam te kan kuier, lekker te eet en steeds gesonde, geurige kos te kan voorsit.

Die slaairesep is beslis een van my groot gunstelinge, veral omdat ek dikwels probeer om tipiese “wit stysels” ’n bietjie te vermy en ander opsies ook op die tafel te sit. Hierdie een is altyd ʼn wenner en baie lekker saam met braaivleis of geroosterde vis of hoender. Die tekstuur van die slaai en die Meksikaanse geure van komyn, koljanderblare en kruisement is ʼn lekker verrassing as jy die eerste happie in jou mond sit.

Suid-Afrikaners is dol oor bak, so maak gerus hierdie heerlike wortelkoek vir die langnaweek. Die vrugte en speserye gee ʼn natuurlike soet smaak en dus is minder suiker nodig. Dit het ook ʼn baie lekker tekstuur.

Slaai met rooi nierbone en mielies met ʼn Meksikaanse geur

  • Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele:

Slaaisous

  • 60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
  • 15 ml (1 e) rooi wynasyn
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) gemaalde komyn
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde koljander
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai

  • 1 x 410 g-blik of 250 ml (1 k) heelpit mielies, gedreineer
  • 1 x 410 g-blik rooi nierbone, gedreineer
  • 1 avokado, in blokkies gesny (opsioneel)
  • 150 g kersietamaties, in kwarte gesny
  • 2 sprietuie, gekap
  • 1 skyf feta, in blokkies gesny
  • ’n groot handvol elk vars koljander- en kruisementblare
  • ’n handvol pampoensade

Metode:

  1. Slaaisous: Klits al die slaaisousbestanddele saam en geur na smaak.
  2. Slaai: Meng al die slaaibestanddele liggies deur in ‘n groot slaaibak. Skep die helfte van die slaaisous oor, meng weer liggies deur en sit met die res van die slaaisous voor.

Wortelkoek

  • Resep van Pharma Dynamics
  • Lewer 12 tot 15 porsies

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) volkoringmeel
  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 2,5 ml (½ t) koeksoda
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • 5 ml (1 t) gemaalde wonderpeper
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde gemmer
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 125 ml (½ k) sagte bruinsuiker
  • 150 ml sonneblom-olie
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel
  • 250 ml (1 k) lemoensap
  • 500 ml (2 k) fyngerasperde wortels
  • 125 ml (½ k) gerasperde pynappel
  • 125 ml (½ k) rosyne of gedroogde rooibosbessies
  • 125 ml (½ k) gekapte pekanneute of amandels

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot vorm-koekpan (soos ʼn Bundt- of silikoonpan) liggies met botter en sif ’n baie dun lagie meel oral oor die binnekant van die pan.
  2. Plaas die volkoringmeel in ʼn mengbak en sif die res van die droë bestanddele bo-oor.
  3. Klits die eiers en suiker vir ʼn paar minute in ʼn aparte groot mengbak tot lig en donsig. Voeg die olie, vanielje en lemoensap by en klits deeglik.
  4. Vou die droë bestanddele deeglik met ʼn groot lepel by die vloeistof in, sonder om te veel te roer. Roer die wortels, pynappel, bosbessies en neute versigtig by.
  5. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak vir 45 tot 50 minute of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
  6. Laat effens afkoel en keer op ’n afkoelrakkie uit. Laat die koek heeltemal afkoel en sif versiersuiker bo-oor, indien verkies. Sny in skyfies en sit as nagereg of ʼn soethappie voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.