Soorte resepte:

[Resep] Spinasie-gereg met bone

Foto: verskaf

Omskep ’n paar basiese en bekende bestanddele in ’n maklike en geurige bygereg deur die regte gaarmaakmetode en geurmiddels te kombineer. Rooi soetrissie en klein tamaties word eers so bietjie gesoteer om hul natuurlike soet smaak te beklemtoon. As die soteerproses oor ’n matige hitte gedoen word, vorm daar ’n heerlike sousie wat saam met die olie en balsamiese asyn, die perfekte “slaaisous” vir die gereg word. Die botterbone absorbeer dié sousie te lekker en terwyl die sous warm is, maak dit sommer die spinasieblare ook gaar en siedaar! – ’n smullekker bygereg vir die somer. Dit kan selfs ’n ligte vegetariese maaltyd wees en is ewe lekker warm of teen kamertemperatuur.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 30 ml (2 e) avokado- of olyfolie
  • 1 rooi soetrissie, in repies gesny
  • 200 g kersietamaties, gehalveer
  • 1 x 410 g-blik botterbone, gedreineer
  • 45 ml (3 e) balsamiese asyn
  • 6-8 spinasieblare, in repies gesny, of 80-100 g baba-spinasieblare
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 skyf fetakaas, gekrummel
  • 30 ml (2 e) pampoensaad
  • 1-2 ekstra-groot Nulaid-eiers, hardgekook om in die kosblik te pak

Metode

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (soos ’n AMC 28 cm Chef’s Pan). Soteer die soetrissie vir ’n paar minute of tot net sag.
  2. Roer die tamaties en bone by en soteer vir 1-2 minute of tot die tamatie se skilletjies net begin oopbars en die bone net warm is. Roer die balsamiese asyn by, verlaag die hitte en prut vir 1-2 minute.
  3. Verwyder van die hitte en roer die spinasieblare deur. Geur met sout en peper.
  4. Roer die feta deur en strooi pampoensaad oor. Sit warm of teen kamertemperatuur as ’n ligte vegetariese ete of as ’n bygereg voor.
  5. Vir ’n kosblik, laat heeltemal afkoel en pak in saam met hardgekookte Nulaid-eiers, in wiggies gesny. Eiers is heerlik met die groente en balsamiese geure.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.