Soorte resepte:

[Resep] Voupakkies met roereier, spinasie en sampioene

(Foto: verskaf)

Roereier is beslis nie net vir ontbyt nie. Dis ʼn maklike manier om ʼn kosblik-ete vullend en voedsaam te maak én dis vinnig om voor te berei. Boonop pas dit by ‘n wye verskeidenheid bestanddele. Maak dit deel van ‘n vulsel en sit dit in ‘n voupakkie (wrap) vir ‘n ligte ete.

Jy kan amper enige ander bestanddele deel maak van die vulsel. Soetrissie, ui, pikantrissies of ander groen groentes soos broccoli kan ook lekker wees saam met die eiers. Vir hierdie resep het ek sampioene en spinasie in ‘n pan gesoteer en net met vars kruie gegeur. Eintlik so eenvoudig, maar heerlik. Avokado is nou in seisoen en ‘n baie goeie bron van die noodsaaklike olies en sal heerlik wees as deel van die ete. ‘n Halwe avokado kan selfs in plaas van die voupakkie deel word van die ete, want dit pas perfek by eier en die groentemengsel.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2.

Lewer 4 – 6 porsies.

Bestanddele:

Roereier

  • 8 groot Nulaid-eiers of 5-6 ekstra-groot eiers
  • 1 e (15 m) water per eier
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 e (15 ml) olyf- of avokado-olie
  • 3 e (45 ml) gekapte vars kruie, bv. origanum, pietersielie, dille of tiemie

Voupakkies (wraps)

  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 125 g sampioene, in skyfies gesny
  • 2 groot handevol spinasie, in repies gesny
  • Volkoring-voupakkies (wraps) om mee voor te sit

Metode: 

  1. Roereier: Klits eiers met die water, sout en peper.
  2. Verhit olie oor matige hitte in ‘n braaipan (’n AMC 24 cm Chef’s Pan werk uitstekend) en skink die eiermengsel in.
  3. Laat die eiers eers effens begin stol voor jy dit roer. Roer versigtig met ‘n eierspaan tot die eiers net alles gaar is. Moenie die eiers te veel roer nie en moenie die pan te warm maak nie, dan word die eiers oorgaar en droog. Verlaag die hitte, indien nodig.
  4. Strooi kruie oor en hou eenkant.
  5. Voupakkies: Verhit intussen die olie in ‘n aparte braaipan. Soteer die sampioene tot gaar en roer die spinasie by. Verwyder dit van die hitte sodra dit sag, maar steeds heldergroen is.
  6. Skep van die sampioenmengsel op ‘n voupakkie, met roereier bo-op en vou toe. Sit warm of teen kamertemperatuur voor.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.