Soorte resepte:

Carmen Niehaus gee wenke vir jou feestafel

Carmen Niehaus (Foto: Verskaf)

In vandag se gejaagde samelewing waar mense al meer vervreemd raak van mekaar soek almal geborgenheid. Saameet en saamsit om ’n tafel skep net die regte atmosfeer waar mense weer die battery kan herlaai, ontspan en veilig voel.

So sê die gewilde kospersoonlikheid, Carmen Niehaus, wat al langer as 30 jaar aan die stuur is van die tydskrif Huisgenoot se kosblad.

“Die feestyd is die ideale geleentheid om weer bande op te tel met familie en vriende, asook weer moeite te doen om deel te wees van mekaar se lewe,” sê Niehaus.

Wanneer jy die gas is

Niehaus sê dit is belangrik om in die feestyd te hoor met watter etes jy kan instaan of iets bydra wanneer jy by iemand gaan kuier – hetsy hoofmaaltye of selfs ontbyt. (Dalk kan jy die peuselgoed voorsien wanneer julle saans om die vuur of op die stoep kuier.)

“As jy vir ’n tydjie gaan kuier, is ’n blik met lekker koekies ook welkom, veral as daar kinders is,” sê sy.

Wanneer jy die onthaalwerk doen

Niehaus sê sy dink dit is deel van die feestyd se lekkerte dat almal deel is van die maak van kos, so die gasheer en -vrou hoef dit nie alles self te doen nie.

Ek onthou tot vandag nog die hoenderpastei wat my tannie Martie gemaak het of die fabelagtige koekstruif wat my tannie Christine vir ná die ete voorgesit het saam met my ma se spesiale roomys.”

Hoewel ʼn groot driegang-Kersete iets is wat Niehaus altyd onthou van haar jonger dae, is haar eie styl veel eenvoudiger.

“Ek sal peuselhappies voorsit, meestal ’n broderige iets met hoemoes en ander smere; dan ’n mooi slaai gedek op die tafel vir voorgereg. Die vleise is meestal warm – hoenderpastei en lams- of varkboud is ’n moet op my Kerstafel met die res dan ’n verskeidenheid slaaie, want aan die suide van Afrika hou ons ’n Somerkersfees.

“Vir poeding het ek altyd die een of ander koekstruif (ek’s gek daarna) en vrugtekoek; ek druk sommer die geld dan daarin en sit dit saam met goeie koffie voor.”

Watter kosgiere moet ek volg?

Niehaus sê die feestyd leen hom tot tradisionele en familiegeregte, maar mense kan dit gerus waag om meer vernuwend te dink as dit by die slaaie en bygeregte kom.

Volgens Niehaus is daar ’n tendens dat tafels nie meer oorlaai word met kos nie, en dat minder geregte opgedis word. Maar dié wat wel die tafel haal, is supergeurig en lekker.

“Groente speel ook ’n al groter rol – dink selfs aan so iets soos ’n heel gevulde gebakte pampoen wat sommer ook dekoratief ingespan kan word.”

Niehaus se topwenk vir die Kerstafel is natuurlik om ’n heerlike lamsboud voor te sit.

“Ek weet dit is duur, maar lamsboud bly maar ’n wenner,” sê sy.

Wanneer dit by drankies kom, meen Nieuhaus mense teug nie meer net aan alkohol nie, maar dat nie-alkoholiese drankies al meer gewild raak.

“Sorg vir ’n groot fles met alkoholvrye pons of ystee gelaai met ys waarvan mense na hartelus kan tap as hulle dors raak,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.