Soorte resepte:

Chia die supersaad

Chia-saad

Chiasade is tans een van die gewildste superkosse in die gesondheidsgemeenskap. Foto: Insights.ingredientsnetwork.com

Althea Nel

Chiasade het een van die gewildste superkosse in die gesondheidsgemeenskap geword. Nie net is die voedingswaarde baie hoog nie, maar dit hou ook ander voordele in. Chiasade is oorspronklik in Mexiko verbou, nie net weens die medisinale eienskappe nie, maar ook omdat dit as geldeenheid gebruik is.

Die voordele van chiasade sluit in die ryk vesel-, omega-3 vetsure- en proteïninhoud. Die voedingswaarde van 30 gram chiasaad is:

  • Dieetvesel (11 g – 42% van aanbevole daaglikse inname);
  • Proteïn (4,4 g – 9% ADT);
  • Omega-3 vetsure (4915 mg);
  • Omega-6 vetsure (1620 mg);
  • Kalsium (77 mg – 18% ADT);
  • Koper (0,1 mg – 3% ADT);
  • Fosfor (265 mg – 27% ADT);
  • Kalium (44,8 mg – 1% ADT); en
  • Sink (1,0 mg – 7% ADT).

Belangrikste voordele:

  1. Vel en veroudering:

Navorsers het onlangs bevind dat chiasade een van die rykste bronne van antioksidante in die natuur is en vrye-radikaalaktiwiteit met 70% beperk. Anti-oksidante verhoog die vel se herstelvermoë en voorkom verdere skade. Chiasade voorkom dus vroeë velveroudering weens inflammasie wat deur vrye-radikale veroorsaak is.

  1. Spysverteringskanaal:

Chiasade is uiters hoog in vesel en bevorder gesonde spysverteringskanaalbeweging en ʼn sagte stoelgang. Dit help ook om jou langer vol te laat voel omdat dit baie water absorbeer en uitswel in die maag. Dit onderdruk aptyt, wat weer lei tot gewigsverlies. Die gelatienagtige materiaal wat in die maag vorm, dien ook as ʼn probiotika en ondersteun die groei van gesonde bakterieë in die spysverteringskanaal.

  1. Hartgesondheid:

Chiasade het die vermoë om inflammasie om te keer, reguleer cholesterol en verlaag bloeddruk. anneer oksidatiewe spanning verlaag word, verminder die kanse om atherosklerose te ontwikkel. Dit bevat selfs meer gesonde omega-3 vetsure as salm!

  1. Diabetes:

Die hoë alfa-linoliensuur en vesel in chiasade kan metaboliese toestande soos insulienweerstandigheid voorkom. Vesel is uiters belangrik vir die liggaam se vermoë om die insulienvlakke te balanseer.

  1. Energie en metabolisme:

Chiasade verhoog uithouvermoë gedurende oefensessies wat 90 minute duur op dieselfde vlak as wat sportdrankies doen, maar sonder al die suiker. Deur ʼn porsie chiasade elke dag by jou dieet te voeg, word jou metabolisme verhoog en dit verbrand maagvet. Studies het bevind dat die byvoeging van chiasade in die dieet viserale (buik) vetweefsel verminder, wat metabolisme beïnvloed.

  1. Bene en tande:

Net 30 g chia dra tot 18% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid kalsium by en bevat ook boron wat help om kalsium, magnesium en fosfor te metaboliseer vir gesonde groei van bene en spiere.

  1. Spiere en gewigsverlies:

Chia is een van die beste plantaardige bronne van proteïen. Indien jy dus maer spiermassa wil verhoog, vet verbrand en bloedsuikervlakke balanseer, sal die byvoeging van chiasade tot jou dieet baie help. Een van die unieke eienskappe van chiasade is dat dit water tot 10 keer van sy eie gewig kan absorbeer en ou dus kan help om gehidreer te bly terwyl dit die absorpsie van voedingstowwe en elektroliete bevorder.

Daar word ook gereken dat chiasade bors-en servikale kanker beveg. Buiten vir ongemak in die maag indien baie chiasade ingeneem word, is daar weinig newe-effekte. Soos met enige voedselsoort, hou matigheid voor oë en drink altyd baie water.

Hoe om chia in te neem:

Chiasade het ʼn ligte neutagtige smaak en kan maklik by enige gereg gevoeg word as garnering, alhoewel omega-3 vetsure nie maklik beskikbaar is vir vertering indien die sade rou geëet word nie. Die beste manier om van die ryk bron van vitamiene en minerale gebruik te maak, is om die sade te week of fyn te maal.

Anneer dit geweek word, “ontkiem” die sade en die ensiem-inhibeerders word vrygestel. Dit is nou makliker vir die liggaam om die sade te verteer en die beskikbaarheid van die voedingstowwe is ook hoër. In my opinie, wil jy altyd die beste voedingswaarde kry uit die kos wat jy eet daarom week ek altyd my chiasade.

Hoe om te week:

Meng sade met ʼn vloeistof 1:10. Dit is omtrent 1,5 eetlepels sade in 1 koppie vloeistof. Dit hoef nie presies te wees nie, maar jy wil ʼn gel kry wat nie té waterig is nie. Laat dit staan vir 30 minute tot 2 ure. Indien jy die sade nie week nie, kan dit water absorbeer tydens vertering in die maag. Daarom moet jy seker maak dat jy genoeg water inneem om jou liggaam gehidreer te hou.

Hoe om te maal:

ʼn Ander opsie is om die sade te maal in ʼn koffiemeule om die buitenste harde doppie fyn te maak. Dit kan in die meeste gluten-vrye resepte gebruik word om lekkernye soos pannekoek, kolwyntjies, brode en selfs pasta te maak. Wanneer jy die omega 3-ryke sade gemaal het, is dit belangrik om dit in geseëlde glashouer in jou yskas of vrieskas te berg sodat die vetsure nie galsterig word nie.

Daar is so baie redes om chia te eet en daar is nie ʼn beter tyd as nou nie.

  • Althea Nel is ‘n voedselwetenskaplike en verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Probeer ook Althea se resep vir chiasaadkoekies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne Wahl ·

Goeiemore wil net graag weet waar koop ‘n mens van hierdie sade en hoe gereeld kan dit gebruik word

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Yvonne

Baie dankie vir jou navraag. Chiasaad is tans maklik bekombaar. Clicks, Dischem, Pick n Pay, Woolworths en al die gesondheidswinkels hou dit aan. Dit kom in ‘n herseëlbare sakkie . By Woolworths is dit R89 vir 250 g. Jy kan dit ook aanlyn by hulle bestel.

Althea sê jy kan hierdie soort saad elke dag eet, maar sy stel voor jy begin stadig en drink genoeg water as jy begin om dit by jou eetplan te voeg. Jy kan die hoeveelhede geleidelik meer maak daarna.

Groete

Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

corrie botha ·

Ek is baie opgewonde oor Maroela Media – baie nuus en inligting wat jy partykeer net hier kry. Ek wil graag weet waar om Chiasade te koop.
baie dankie vir die interessante nuusbrief. Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.