Soorte resepte:

Die 10 duurste vrugte in die wêreld

Mens kan vrugte soms nog goedkoop op ʼn plaas of by ʼn padstalletjie te koop kry, maar daar is ʼn paar mense wat bereid is om ʼn hele paar rand op te dok vir eksotiese en spesiaal gekweekte vrugte.

Van dié vrugte word spesiaal gekweek en dit is nêrens anders in die wêreld of só in die natuur beskikbaar nie.

10. Boeddha-pere

ʼn Boer in China, Xianzhang Hao, het met dié idee vorendag gekom om pere te kweek in die vorm van Boeddha-beeldjies. Die vrugte word in spesiale vorms gekweek wat deur die Fruit Mould Company in China vervaardig word. Die pere kos ongeveer R110 stuk.

9. Sekai Ichi-appels

Die naam beteken “nommer een in die wêreld”. Dié appels is sowaar uniek. Dit is vir die eerste keer in 1974 in Japan gekweek. Dit is nie die kleur of smaak wat uniek is nie, maar wel die grootte. Die appels het ʼn omtrek van ongeveer 40 cm en weeg meer as 900 gram. Die appels word boonop in heuning gewas voor dit verkoop word. Elke appel kos ongeveer R145.

8. Dekopon-sitrus

Dekopon-sitrus is ʼn soet kombinasie tussen ʼn naartjie en ʼn lemoen. Dit is oorspronklik in 1972 gekweek en as gevolg van die soetheid, beskou talle persone dit as die beste lemoene in die wêreld. Die lemoene word in ʼn pakkie van ses teen ongeveer R970 verkoop.

7. Sembikiya Queen-aarbeie

Dié aarbeie word elkeen individueel uitgesoek vir die regte kleur rooi, die donkergroen blare, wit saadjies en perfekte vorm. Die aarbeie word in pakkies van twaalf verkoop teen meer as R1 000.

6. Vierkantige waatlemoen

Dié waatlemoen is aanvanklik net in Japan gekweek, maar sedert 2014 word dit ook nou in die res van die wêreld verkoop. Die waatlemoene word in ʼn boks gekweek en proe net soos ʼn “gewone” waatlemoen. Jy gaan egter byna R9 700 vir só waatlemoen moet opdok!

5. Pynappels van die Verlore Tuine van Heligan

Ons weet pynappels groei nie in Europa nie, en Engeland se weer is nie geskik vir pynappels nie – tensy mense ingryp. Die Verlore Tuine van Heligan in Cornwall, Engeland, is die laaste plek in Europa waar pynappels wel gekweek word. Dis ʼn pynappelpit – die tipe wat Victoriaanse tuiniers in die 18de eeu gebruik het. Die pynappels word gewoonlik nie verkoop nie, alhoewel die waarde van elkeen bereken word op meer as R18 000 elk. Een van die pynappels is tydens ʼn veiling vir R194 000 verkoop.

4. Taiyo no Tamago-veselperskes

Die naam beteken “eier van die son”. Die veselperskes moet elkeen meer as 350 gram weeg en dit moet elkeen ʼn hoë suikergehalte hê. Die vrugte word gewoonlik net op ʼn veiling verkoop en die duurste wat nog ooit vir twee betaal is, is R36 000.

3. Ruby Roman-druiwe

Dié druiwe word ook in Japan gekweek, in die Ishikawa-prefektuur. Die druiwe word spesiaal uitgesoek en elke korrel weeg meer as 20 gram met ʼn 18% suikerinhoud. As die korrels meer as 30 gram weeg en die trossie meer as 700 gram weeg, word hulle vir die premieklas uitgesoek. ʼn Tros van 26 druiwe is in 2015 vir byna R102 000 verkoop.

2. Densuke-waatlemoen

Dié swart waatlemoene het geen vlekke of strepies nie en is baie seldsaam. Dit is klein bietjie soeter as ʼn gewone waatlemoen en slegs 10 000 word jaarliks gekweek. Die waatlemoene kos gewoonlik ongeveer R3 000 elk, maar in 2008 is een van dié waatlemoene vir byna R74 000 verkoop.

1. Yubari King-spanspek

Die Yubari King-spanspek word op Hokkaido-eiland gekweek. Dit het ʼn perfekte ronde vorm met ʼn gladde skil. Dit is sag en baie soet en word as geskenke uitgedeel tydens ʼn tradisionele Boeddhiste- en Taoïste-fees. Een spanspek kos gemiddeld R145 000, maar twee daarvan is in 2008 vir R363 000 verkoop – die duurste vrugte in die wêreld.

Bron: Luxatic

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Justice ·

Teen daardie prys beslis meer doeltreffend as die Banting dieet.

Denise ·

Belaglik ons boere se vrugte is heerlik dankie en ek kan dit bekostig en die vorms perfek !!!!!!!

Ekwilibrium ·

Sjoe! Is railway perskes dan ook meer waardevol wanneer die Bloutrein of Rovos Rail verby ry? Ek kan al sien hoe plant daai Laeveldse boere mango’s tussen suikerriet om ‘n hoër suikerinhoud te kry…

Cherise ·

Dit is heel kens om so baie te betaal vir vrugte. Mens sal sweer daar is goud in hulle. Belaglik.

Cato ·

Stapelgek is die wat so duur betaal vir die vrugte!!! Spandeer jou geld elders. Daar is soveel armoede en nood, sies julle!

E. ·

Onthou net, as iemand soveel betaal, is daar ‘n ander iemand wat soveel ontvang. Dis net belaglik as die tyd/energie wat dit neem om te produseer vergelykbaar is met verkoop-prys: dan is dit belaglik want mens kon soveel meer uitset kry, met daardie inset — soos jy se^: baie beter dan vir die wyer gemeenskap se welstand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.