Soorte resepte:

Dié SA-ner is die beste Starbucks-barista in die streek

Teddy Nzama is aangewys as die Starbucks EMEA 2019 barista van die jaar. (Foto: Skermgreep)

Teddy Nzama, ʼn barista by die Florida Road Starbucks in Durban het die naweek stof in ander baristas se oë geskop toe hy aangewys is as die topbarista in die streek wat Europa, die Midde-Ooste en Afrika (EMEA) insluit.

Sowat 15 000 van die reusekoffiegroep se werknemers het vir die kompetisie ingeskryf en die getal deelnemers is oor die afgelope nege maande tot 30 finaliste uitgedun.

Ná ʼn stywe kompetisie van drie dae by die Starbucks EMEA-hoofkantoor in Londen, is Nzama as een van die top-16-finaliste gekies. Dié groep moes aan ʼn latté‑kuns-uitdaging deelneem.

Terwyl sommige finaliste met bewerige hande ʼn blompatroon in hul koffie geskink het, het Nzama, wat al sewe jaar lank in die koffiebedryf werk, weer daarin geslaag om die beoordelaars te beïndruk en is hy deur na die topvierfinaliste.

Deelnemers is nie net op grond van hul koffieskinkvermoë getoets nie, maar ook oor hul kennis van waar Starbucks hulle koffie kry.

“Dié persoon kon daarin slaag om ons te inspireer en het sy vaardighede ten toon gestel. Hy het eintlik ʼn ongelooflike persoonlike reis meegemaak om te kom waar hy vandag is, en dus is hy ons wenner,” het ʼn beoordelaar gesê toe hy die wenner aangewys het.

Toe Nzama tydens die uitdunrondes gevra is wat dit verg om te wen, het hy beskeie geantwoord: “Liefde, passie en om jou kennis met ander te deel.”

Hy vertel aan Maroela Media dat hy hom nooit in die koffiebedryf gesien het nie, omdat hy geen kennis van die bedryf gehad het nie. “Ek het deur genade ʼn geleentheid gekry wat my aan die bedryf bekendgestel het en dit was daar wat ek verlief geraak het op koffie en hoeveel geleenthede die bedryf ʼn mens bied.”

Teddy Nzama is aangewys as die Starbucks EMEA 2019 barista van die jaar. (Foto: Skermgreep)

Nzama gaan nou, as deel van sy prys, genooi word om die onderneming se koffiebrandery in Milaan te besoek, terwyl hy saam met ander Starbucks-werknemers ʼn besoek aan die koffieplase in Rwanda gaan aflê. Hier sal hy eerstehands kan ervaar hoe die koffie gekweek en verwerk word, asook die koffieboonboere ontmoet.

“Ek kon nie glo dat ek as die wenner aangewys is nie. Die kompetisie was so sterk en almal het hul alles gegee. Ek is oorweldig en so verras,” sê hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oom Boggom by Boggom Boeretroos ·

Knap gedaan, dit sit nie sommer in enige ou se broek hierdie nie.

Koffie ·

Congratulations Teddy! A barista can save people’s lives – literally in my world it does. A good barista makes a BIG difference to your day!

Karien ·

Ja nee, die ouens het n ander soort talent. Hul gooi die mooiste prentjies met daai melk se skuim. Coffee gets me started, but God keeps me going. Wat is n oggend sonder n lekker koffie met n skuimpie op.

Pieter ·

Vat so! Goeie werk Teddy! Goeie werk aan verslaggewer ook om nie snert te praat soos ander om te sê “Meet the South African who has just been named the world’s best barista”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.