Soorte resepte:

Die weelde van ʼn onverwagse lekkerte

kook-kosmaak-pot

Foto: Tookapic/Pexels.com

Deur Johan Oosthuizen

Nes ek begin dink ek sal nou maar moet vergeet van die weelde van ʼn onverwagse lekkerte, kom daar uit die bloute die moontlikheid van ʼn nuwe lekkerte. Ek het mos nou die streep in my om so ʼn bietjie te eksperimenteer met goed wat jy kan gaarmaak met die oog op ʼn smullekker eetervaring.

So kom ʼn goeie jong vriend by my aan met die versoek of ek dan nou nie so ʼn bietjie aan sy leergordel kan werk nie. Hy hou nie van die fiefierige gespe nie. Toe wys hy my sy oupa, of dalk oupagrootjie, se jaggordel waarvan die voorste punt afgeskeur het en vra of ek nie dalk die erfstuk weer bruikbaar kan maak nie. Die gordel sal dit dan net soveel makliker maak om die wilde makoue, wat die graan so verniel, se getalle laer te kan hou. Ek sê toe ja, dis reg, en dat ek sy gordel vir hom na sy smaak mooi reg sal kan maak.

Omdat sy pa en ma hom so mooi grootgemaak het, sê hy toe hy sal betaal en vra toe wat dit sal kos. “Man,” sê ek vir hom, “jy weet mos ek laat ouens soos jy nie betaal nie! Bring net vir my ʼn lekker groot, vet wilde makou, laat ek die ding kan probeer.” Hy’s toe nogal bly, want alle bietjies help vir ʼn jong boer met ʼn kopperasierekening, al is dit ʼn druppel in die oseaan.

Vroegoggend kom hy toe weer hier aan met ʼn bielie van ʼn wilde makou. Ek sê toe verbaas, bly oor die reuseslagding, dat hy nou ook vir my ʼn dag se werk gebring het. Dis toe nou oor die herinnering aan destyds se kolgans en al die ure se gesukkel om al die vere en dons uitgepluk te kry. “Nee man, oom, die ding slag jy soos ʼn skaap. Jy slag die hele vel af en pluk g’n veer nie!” het hy beslis aangeraai. Ek het hom so staan en kyk en vir myself gesê dat die heerlike heilsaamheid van brosgebraaide vel die arbeider se loon is.

Ek het die makou so gekyk en besef ek het nie ʼn groot genoeg emmer nie, en een ketel se kookwater sou nie genoeg gewees het om die vere los te kry nie. Met die grote makou op die slagtafel, het ek en my getroue Helpertjie eers na die makou en toe na mekaar gekyk. My wyse Raadgewertjie het my stip in die oë gekyk en haar weloorwoë mening woordeloos uitgespreek. Ek het my knipmes uitgehaal en geslyp.

Terwyl my raadgewende Assistentjie ietwat onwillig vasgehou het waar sy moes vashou, het ek die makou begin afslag en hoe langer ek afgeslag het, hoe meer het die makou soos ʼn jong boerbokkie begin lyk – baie en mooi rooi vleis! Die afslaggery het heel goed verloop. Eintlik so asof ek dit nie vir die eerste keer gedoen het nie, en my Helpertjie het trots na my gekyk en haar goedkeurende blik het my laat kans sien vir die res.

ʼn Spogfoto van die slagding is per WhatsApp na familie SA gestuur en uit Nederland het kleinseun Richard laat weet hy dink die wilde makou is dalk ʼn bedreigde spesie, waarop sy neef Mattias laat weet het dat ons in SA alles behalwe renosters kan jag en eet. Nou toe nou, daar het jy dit.

Ek het eers die krop en gorrelpyp mooi losgesny. Die krop was tot barstens toe vol uintjiebolletjies en ek dag toe ek moet darem vir die jagter daarop wys dat die makoue eintlik boerebondgenote is, maar toe onthou ek hoe oom Johnny vertel het hoe ʼn trop wilde makoue binne twee dae sy lap groen koring tot in die grond in afgevreet het. Toe’t ek die buikholte oopgesny om die binnegoed uit te kry. Dit was nou maklik! Die grote wilde makou het mos nie ʼn buikholtetjie nie, maar sommer so ʼn buiktonnel sodat ek al die goed wat moes uit, kon raakvat en uittrek. Sommer net so en toe ek die spulletjie so staan en bekyk, merk ek op dat daar nie ʼn magie is nie, maar ʼn MAAG, en nie ʼn lewertjie nie, maar ʼn LEWER! En nie ʼn hartjie nie, maar ʼn HART! Verder was daar nie ʼn nekkie nie, maar ʼn NEK – ʼn goeie 25 cm lank! Nie vlerkies nie, maar 40 cm lange VLERKE. O ja, en daar was nie ʼn stuitjie nie, maar ʼn STUIT!

Toe vir die gaarmaakslag. Dit was nou vir jou ʼn ding! Nee, nie vir jou nie, vir my! My ysterpot was hopeloos te klein, maar die wilde makou sou gelukkig net-net in ʼn oondpan inpas, ongelukkig dan sonder ʼn deksel om te voorkom dat die vellose vleis uitdroog. My ou Slimmetjie het my verseker dat sy met foelie die probleem sou kon oplos.

Nee, dag ek toe, daar moes ʼn beter plan wees en ek dink toe weer aan my ysterpot wat my nog nooit in die steek gelaat het nie. Dis net daar waar ek toe besluit om die karkas te ontbeen sodat al die vleis in die pot sou kon inpas. So met die ontbenery het ʼn nuwe gaarmaakplan in my kop begin maal … Ek het mos nog ʼn skaapnetvet wat wag om benut te word!

Ek het die makou netjies ontbeen en die snitte in ʼn plat skottel uitgepak, met so ʼn tjirtsie olie gesmeer, en toe nog met so ʼn bietjie blatjang bestryk. So ʼn paar blertse Worcestersous kan ook help om vleis lekkerder te maak, dag ek. Deesdae bly ek weg van allerhande speserye en hou maar liewer by growwe swartpeper en sout as ek vleis gaarmaak.

Nog steeds huilerig oor die vel wat ek ter wille van tyd moes afstaan, besluit ek toe om die ysterpot met die netvet uit te voer en dan die vleis sorgvuldig in te pak. Net so vir die wis en die onwis gaan ek dan ʼn suurlemoen oor die spulletjie uitdruk. En dan vir die uie en ʼn knoffeltjie: Die uie en knoffel word in dun skywe gesny en bo-op die vleis gepak. Met ui moet jy nie suinig wees nie, maar die knoffeltjie moet sy kant pertinent dog ietwat beskeie bring.

As die hele ou spulletjie in die pot reg lê, moet die res van die netvet oor die vleis gevou word. Vir oulaas gaan ek swartpeper en sout strooi en dan die deksel opsit. Dan is dit oond toe en ʼn vroeë geurtjie sal waarskynlik aandui of my gaarmaakplan werk. Hoe dit ook al sy, ʼn vleisie in ʼn pot bly die ding wat lekker eet nog lekkerder maak. Ag, en as die ondenkbare gebeur, kan ʼn mens die floppie op die een of ander manier met die een of ander megheftertjie regtoor. Dis nou as die wyn vir die pyn om jou hart in tye van verdrietigheid te verbly, nie sy kant kon bring nie.

As dit ʼn sukses was, sal ek my eie stert prys en as dit nie so was nie, sal ek maar so ʼn bietjie aandik (bylieg) om te spog dat dit darem nie te sleg was nie. Hulle sê probeer is die beste geweer en as jy die kol mis, probeer jy maar weer.

Eet en wees vrolik, want môre sterf, nee! Eet ons weer! En mag die heilsaamheid van lekker eet aan lekker kos nooit onderskat en geringgeag word nie!

Skielik dans ʼn duiweltjie hier om my ore rond en dit laat my wonder. Met dié dat dagga nou gewettig gaan word, wonder ek verder: Moet ek nie liewer dagga-olie gebruik nie? Moet ek nie dalk so ʼn paar daggablare op die netvet pak vir ekstra kleur en geur nie? Die wonderblaartjie het dalk nie net medisinale waarde nie, maar kan dalk ook van hoë kulinêre waarde wees?! Toe ek weer tot my normale sinne kom, was my uitroep hard en duidelik: “Wyk, Satang, wyk! Gaan ver weg!” En toe wyk hy. Ver weg.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Koolstoof, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Daan Erasmus ·

Julle moet darm sê vanwaar die man is. Dat ‘n mens die storie iewers kan “neersit” en in konteks plaas. Dit sal help.

Sakkie ·

Wakkerstroom se wêreld self kolganse en wildemakoue op panne naby Wag-‘n-bietjie gejag. Ja afslag werk goed en lekker groot swartpot wat gewoonlik vir papmaak gebruik is vir die plaaswerkers het die ding gedoen. Heerlik, heerlik. Lekker storie en goed vertel.

Paul ·

Pasop vir wildemakou eet! Die voëls se vleis kan soms giftig wees omdat hulle oogpisters eet. Die gifstof in die kewers word in die wildemakou se vleis opgeneem en kan ‘n mens liedelik siek maak – selfs doodmaak!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.