Soorte resepte:

Dít is waar Carmen Niehaus se liefde vir kos begin

Carmen Niehaus (Foto: Verskaf)

Die bekende kosskrywer Carmen Niehaus bly al die afgelope 30 jaar aan die voorpunt van kosgiere, sy ontwikkel deurlopend nuwe resepte en sy het behoorlik haar plek in haar lesers se kombuis ingeneem.

Niehaus vertel dat haar liefde vir kos en kosmaak eintlik effe terloops gebeur het. Haar ma was nie ʼn groot kok nie, maar sy het toe getrou en op ʼn plaas gaan bly. Op die plaas moes haar ma toe leer om handig in die kombuis te raak deur byvoorbeeld brood te bak en konfyt te kook.

Niehaus se ma het haar en haar tweelingsuster betrek by haar eksperimente in die kombuis – en dít is waar alles begin het.

“Ons was nog te klein en kon nie by die bak uitkom wanneer sy aartappelsuurdeegbrood gemaak het nie. So dan het my ma ons staangemaak op ʼn stoel, en dan het ons so geknie saam met haar,” vertel sy.

Niehaus onthou die eerste resep wat sy op haar eie kon maak: skons. Daarna het haar ma vinnig gemaklik genoeg gevoel om die tweeling alleen in die kombuis te laat.

“My ma en pa sou kerk toe gaan en my en my sussie los om middagete te maak. Dan het ons enigiets van lamsboud tot gebraaide aartappels tot poeding gemaak.”

Niehaus het toe besluit om BCom te studeer ná skool, maar sy het dit net vir sowat drie weke volgehou. Sy het die wêreld van finansies agtergelaat en huishoudkunde begin studeer. Sy sê dit is wel in die tydskrif Huisgenoot se toetskombuis, waar sy nou al vir meer as 30 jaar die kosredakteur is, waar sy behoorlik geleer het van geure en régtig geleer kook het.

Vir Niehaus verskaf kosmaak vir haar soveel vreugde dat dit nie eens vir haar voel soos ʼn werk nie. Sy maak wel seker dat sy baie oplees oor kosgiere, met mense oor kos praat en kosverwante geleenthede bywoon sodat sy deurlopend innoverend kan wees, maar resepte steeds toeganklik vir gewone mense maak.

Niehaus vertel dat dit vir haar moeilik is om haar gunsteling-resep te kies, maar dat daar wel een is wat uitstaan: ʼn Franse hoendergereg met pruimedante, olywe, baie knoffel en witwyn.

“Ek het aanvanklik gedink die kombinasie gaan glad nie werk nie, maar nou is dit die resep waarop ek altyd terugval as ek vir ʼn geselligheid kosmaak of as baie mense by my kom eet. Want dit is so maklik en eenvoudig,” sê sy.

Verder hou sy ook van ʼn lamsboud wat onder meer met komyn en jogurt gegeur is.

Maar wanneer Niehaus net saam met haar gesin tuis eet, is haar kostafel veel meer eenvoudig as wat haar tydskrifkos is.

“Ons eet in die week eenvoudig. Ek en my huisgesin hou van ʼn lekker slaai, anders is ʼn roerbraai of bobotie ook lekker. Baie aande sal ons ook sommer net ʼn worsie braai en ʼn braaibroodjie maak,” sê sy.

Niehaus sê sy is lief daarvoor om nuwe geregte te probeer en dat sy nie vol fiemies is wanneer dit by kos kom nie, maar dat sy nie van okra hou nie, ʼn soort blomplant van Afrika en suidelike Asië met ʼn eetbare saadpeul. Sy hou ook verbasend nie veel van biefstuk nie.

“Die tekstuur van biefstuk is net nie vir my lekker nie. Ek geniet eerder ʼn bredie of varkvleis met ʼn lekker vetjie aan die kant,” vertel sy.

Carmen se kosfilosofie

Niehaus sê dit is vir haar lekker om al so lank in die bedryf te wees, omdat sy nou al kan verwoord wat haar soort kos is. Sy sê daar is vyf goed wat vir haar belangrik is wanneer sy kook.

Geurkombinasies: ʼn Mens moet weet wat die verskillende geure is wat bymekaar pas.

Vars speserye: In stede daarvan om kos geur te gee met botter of suiker verkies Niehaus dit om eerder met speserye en kruie te werk.

Gesonde kos: “Die kos moet natuurlik lekker wees, maar ek het ook ʼn verantwoordelikheid om gesonde kos te maak. Want as jy nie gesond is nie kan jy nie funksioneer nie.

“Baie mense dink as jy gesond wil eet moet jy bokkos eet. Ek het dit my missie gemaak om vir mense te wys dat mens lekker kan eet, maar steeds gesond kan wees,” sê sy.

Niehaus probeer om haar kos so vars moontlik te hou, en om min suiker en vet te gebruik

Vinnig en maklik: Niehaus is permanent op soek na maniere om ʼn kortpad te vat om ʼn resep vinnig op die tafel te kan kry.

Ekonomies: “Ek gaan kyk altyd wat op die rakke is wat bekostigbaar is en ek probeer om byvoorbeeld goedkoper vleissnitte te gebruik.”

Niehaus sê kos kan goedkoper wees sonder om gesondheid in te boet. Mens hoef nie onnodig baie geld op bestanddele te bestee nie, en dit kan steeds van goeie gehalte wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

dupjasen ·

Maroela kan jul vir my die aartappelsuurdeeg resep kry asb, en vir my e-pos.

Dorothy ·

Dankie Carmen vir Randrekkers. Ek kan nie sonder die resepte nie. Die resepte maak dit weer bekostigbaar om weer smaaklik te kan eet want die kos in die winkels is onbekostigbaar en moet maar partykeer ander plek kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.