Soorte resepte:

Drie SA wynplase onder beste ter wêreld

Vergelegen (Foto: Verskaf)

Drie wynplase in Suid-Afrika het onlangs hul plek onder die top-50 wynplase ter wêreld ingeneem tydens die World’s Best Vineyard 2019-toekennings.

Dié wynplase is Vergelegen (nr. 34), Delaire Graff (nr. 39) en Creation Wines (nr. 45). Vergelegen, wat in Somerset-Wes in die Wes-Kaap geleë is, is ook as die beste wynplaas in Afrika aangewys.

Die World’s Best Vineyard-toekennings is ’n internasionale akademie wat bestaan uit sowat 500 wynkenners, reiskorrespondente en wynspesialiste (“sommeliers”) van reg oor die wêreld.

Die wêreld word in geografiese streke verdeel en elke streek kry dan ʼn voorsitter wat verantwoordelik is daarvoor om nóg 36 kenners op die gebied aan te stel. Dié kenners kies daarna hul top-7 wynplase. Onder meer die wyne, restaurant, personeel, prys, toeganklikheid en atmosfeer van die wynplaas word in ag geneem.

Altesaam 1 500 wynplase van 17 verskillende lande word geanaliseer om die finale lys saam te stel.

Zuccardi Valle de Uco in Argentinië (foto: Instagram)

Die wynplaas wat die top-posisie ingeneem het, en as die beste wynplaas ter wêreld gekroon is, is Zuccardi Valle de Uco in Argentinië.

“Ons is absoluut verheug oor hierdie toekenning,” het Don Tooth, die uitvoerende hoof van Vergelegen gesê. “Die Vergelegen-span is toegewy om Suid-Afrika se reputasie as wêreldklas wynmaker uit te bou, en hierdie toekenning gee erkenning vir daardie passie.

“Dit is nie net ’n trotse oomblik vir Vergelegen nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse wyn- en toerismebedryf,” het hy gesê.

Die ander twee Suid-Afrikaanse wynplase wat die lys gehaal het is onderskeidelik in

Stellenbosch (Delaire Graff) en Hermanus (Creation Wines) geleë.

Die top-10 wynplase volgens dié lys is:

  1. Zuccardi Valle de Uco, Argentinië
  2. Bodega Garzón, Uruguay
  3. López de Heredia Viña Tondonia, S.A, Spanje
  4. Quinta do Crasto, Portugal
  5. Catena Zapata, Argentinië
  6. Montes, Chili
  7. Clos Apalta Winery, Chili
  8. Rippon, Nieu-Seeland
  9. Marqués de Riscal, Spanje
  10. Weingut Dr. Loosen, Duitsland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

… en die Lapa-vallei in Kaliforniè is na die erge brande poegaai. Dit is werklik nogal ‘n wonderwerk dat die Franse Hugenote, wat moes vlug vir hul geloof en die pragtige chateau’s en wynlande so moes agterlaat, hier van alle plekke aanland, met nog mooier omgewings om weer met dieselfde kalwers te kan begin ploeg, Maar wat doen ons, ons verkoop die plase vir ‘n appel en ei aan vreemdes. Vandag sit die ondankbares se nasate droè bek. Weer begin, is die Afrikaners se tweede naam.

Therese van Schalkwyk ·

John, dit klink verskriklik as jy dit só stel, maar nou ja, wat kan ‘n mens sê, want jy slaan die spyker op die kop.

Anton ·

Die twee toetse waar Suid Afrika myns insiens ((gedop )) het is beslis eerstens die personeel toets en tweedens die prys…

Chris van der Merwe ·

Argentinie kan baie gelukkig voel, want hulle het 2 onder die eerste 5.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.