Soorte resepte:

Dié SA whisky kraai wêreldwyd koning

Andy Watts. Foto: Verskaf

Bain’s Cape Mountain Whisky is Donderdagaand in Londen met die World’s Best Grain Whisky-titel op die World Whiskies-prysaand bekroon. Boonop is die stigter-distilleerder, Andy Watts, as die wêreld se meester-distilleerder vir 2018 aangewys.

Hierdie toekennings, wat jaarliks ​​deur die Verenigde Koningryk se Whisky Magazine aangebied word, trek sterk kompetisie uit onder meer Skotland, Ierland, die VSA en Japan in ʼn poging om as die wêreld se beste whiskyprodusent aangewys te word.

Die uitslae is tydens ʼn glansgeleentheid in die Waldorf Hilton Hotel in Londen bekendgemaak. Watts, ʼn voormalige professionele krieketspeler, het albei toekennings persoonlik ontvang en gesê die oorwinning was oorweldigende nuus vir hul trots Suid-Afrikaanse handelsmerk en vir Suid-Afrika.

“Ons het teen alle verwagting in die persepsie oorkom dat slegs tradisionele whisky-produserende lande ernstig geneem kan word. Ons bedryf in Suid-Afrika is net 40 jaar oud en hoewel ons baie hindernisse beleef het, het ons innoverend geword in ons benadering om ons unieke warm klimaat te bestuur, kreatiewe maniere te vind om ons plaaslike graan te gebruik en voortdurend te streef na die vervaardiging van uitsonderlike whisky,” het Watts, gesê.

“Deur twee wêreldtitels op een aand te ontvang, is die nederigste ervaring wat ek in my loopbaan in die whisky-bedryf van 34 jaar beleef het.”

Bain’s Cape Mountain Whisky is die enigste whisky ter wêreld wat van 100% Suid-Afrikaanse mielies gemaak word. Dit het ʼn uitsonderlike volronde eienskap weens die unieke dubbelveroudering oor ʼn tydperk van vyf jaar in vate wat voorheen vir bourbon gebruik is. Die warmer klimaat is ook ʼn bydraende faktor wat die wisselwerking tussen hout, spiritus en lug versnel tydens veroudering, wat lei tot ʼn veel ronder whisky op ʼn jonger ouderdom wat gewoonlik met meer volwasse whiskies bereik word.

Dit het Watts tien jaar geneem om Bain’s Cape Mountain Whisky te ontwikkel voordat dit in 2009 die eerste keer uitgereik is.

Bain’s Cape Mountain Whisky. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wellingtoner ·

Baie geluk Andy, julle verdien dit. Twee enkels in een glas bly maar my gunsteling hier ter plaatse by die rolbal klub.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.