Soorte resepte:

Jenewer gegeur deur… olifantmis?

Les Ansley versamel die olifantmis in die Botlierskop-privaat natuurreservaat. (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

Die Suid-Afrikaanse jenewermakers, Les en Paula Ansley, van Indlovu Gin, het begin om olifantmis te gebruik om hul jenewer te geur, en dié drankie is reeds ʼn treffer!

Les en Paula het aan dié unieke idee gekom toe hulle sowat ʼn jaar gelede op ʼn safaririt was waar die wildbewaarder die spysverteringstelsel van olifante aan hulle verduidelik het.

Olifante eet ʼn wye verskeidenheid van vrugte en blomme, maar hulle verteer slegs minder as ʼn derde daarvan. As gevolg daarvan kry jy die wonderlikste verskeidenheid van botaniese geure uit hul mis.

“Hoekom laat ons nie eerder die olifante die harde werk doen, deur al die botaniese bestanddele te versamel, en dan maak ons ʼn jenewer daarvan nie?” het Paula voorgestel.

Paula en Les het hul eerste besending olifantmis laat aflewer van die park af waar hulle die safaririt gedoen het. Die egpaar, wat beide wetenskaplikes is, het toe vir ʼn paar weke die proses uitgewerk om die jenewer te maak.

‘n Olifant by Botlierskop privaat-natuurreservaat. (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

Sowat vyf groot sakke olifantmis word gebruik vir 3 000 tot 4 000 bottels jenewer. Die mis word gedroog en gekrummel, voordat dit gewas word om die sand en vuilgoed te verwyder. Uiteindelik bly slegs die oorblyfsels van die vrugte, blomme, blare en bas oor wat die olifante geëet het.

Les en Puala versamel deesdae sélf die olifantmis. (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

Die botaniese bestanddele word dan gesteriliseer en weer ʼn keer gedroog voordat dit in ʼn spesiale kas gebêre word waar dit droog bly en die geure ontwikkel. Uiteindelik word die reste gebruik om die jenewer te geur.

Deesdae versamel Paula en Les self die mis, met hulle eie hande. Die bottels waarin die jenewer kom, word ook gemerk met die koördinate van waar die mis opgetel is.

Hulle beskryf die jenewer se smaak as “pittig, aards en houtagtig”, die geure verander ook subtiel saam met die seisoen en plek waar die mis opgetel is.

Die paartjie het eers die jenewer onder hul vriende probeer, voordat hulle dit begin verkoop het.

Die bottel van olifantmis-gegeurde jenewer. (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

“Die onmiddellike reaksie van mense is: ‘Wat? Daar is nie ʼn manier nie!’ Maar die meeste mense is eintlik baie gretig om dit te probeer,” sê Paula. En wanneer hulle eers van die olifant se spysverteringstelsel gehoor het, het alles vir hul meer sin gemaak en het hulle dit makliker aanvaar.

Paula en Les het besluit om die jenewer Indlovu te noem, wat “olifant” in Zoeloe beteken. Dié jenewer sal jou omtrent R500 per bottel uit die sak jaag.

Die olifantmis net voordat dit gebruik word om die jenewer te geur. (Foto: AP Photo/Denis Farrell)

Toeriste is reeds mal oor dié unieke geur in jenewer. Dit word veral goed ontvang by wildplase en op lughawens.

“Om net aan die olifantmis te kon vat, en om net naby aan die dier te wees, is majestueus,” het een toeris gesê. “So om ʼn deel van hulle by my te kan hê voel baie lekker. Dit is soos ʼn uitvoerproduk van die Afrika-ervaring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Olifant ·

Hoekom moet alles wat wat met bosveld te doen het altyd ‘n zulu naam kry. Waarom nie bietjie oorspronkliker en interessanter nie. Ek kan aan soveel mooi name dink.

HV ·

Ai ! Oliefantmis hoort in die natuur as n kompos vir die plante. Die mens met sy kamma kennis en sogenaamde inisiatief gaan nog met hierdie planeet juis met dit vernietig. Kyk maar net na die plastiek besoedeling in die see en die aarverwarming met gepaardgaande droogtes ens.
Ek wonder of die Bybel regtig die mens beskryf as die kroon van God se skepping.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.