Soorte resepte:

Pinotage en biltong by fees gevier

Foto: Verskaf

Pinotage-druiwe is welbekend vir die onoortreflike rooiwyn wat daarmee gemaak word, maar by die Pinotage-en-Biltongfees word dié eg Suid-Afrikaanse druifsoort in allerlei verskillende style gevier.

Die eerste Gauteng Pinotage-en-Biltongfees vind op 14 en 15 Oktober by die Leriba Hotel in Centurion plaas. Dit duur daagliks van 11:00 tot 17:00.

“Ons vier Pinotage in al sy glorie,” het Cobie van Oort, organiseerder van die fees, gesê. “Mense is gewoond aan die fantastiese rooi Pinotage wat in Suid-Afrika gemaak word, maar die ander wyne soos vonkelwyn, rosé, versnitte, soetwyne en selfs wit Pinotage is ook tydens die fees te proe én te koop vir diegene wat die ondervinding verder by die huis wil geniet.”

Verskeie soorte biltong, wat die Pinotage aanvul, sal ook beskikbaar wees. Feesgangers sal onder meer aan tradisionele biltong, blatjang-biltong, soetrissie-biltong, lemoen-spekbiltong en droëwors kan knibbel.

Altesaam 18 Suid-Afrikaanse wynkelders se wyne sal by die fees te proe wees. Deelnemende wynkelders sluit in Beyerskloof, Delheim, Flagstone, Lanzerac, L’Avenir, Perdeberg, Simonsvlei en Rhebokskloof.

Die fees bied ʼn lekker kuiergeleentheid vir die hele familie. Daar is plek om onder die bome langs die rivier te kuier, verskillende restaurante om by te eet, en ook minder formele kos om aan te smul. Die Swing Cats Duo sal rustige jazz speel om atmosfeer te skep, terwyl die kleinspan vermaak sal word in die Kinder-Zone, wat deur die Pebbles-projek en Montagu Dried Fruit and Nuts aangebied word.

Die drag vir die fees is pers en wit, en pryse sal uitgedeel word vir die beste, oulikste en prettigste kleredrag.

Kaartjies vir dié fees beloop R220 elk. Dit sluit ʼn wynglas en gratis wyn- en biltongproeë in. Kaartjies op die dag by die hek sal R250 per persoon kos.

Vir meer inligting, besoek  hul Facebook-blad hier.

WEN:

Een gelukkige leser staan die kans om ʼn dubbelkaartjie na die Gauteng Pinotage-en-Biltongfees op 15 Oktober, asook drie bottels splinternuwe Lanzerac Pinotage Rosé 2016 te wen. Stuur jou naam, van, kontaknommer en antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is die kleredrag vir die fees? Die kompetisie sluit op 25 September om 12:00. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

Let asseblief op: Die kompetisie geld nie vir mense onder 18 nie. Die wyn moet by die fees by die Lanzerac-stalletjie afgehaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adri ·

Ek verstaan nie mooi nie. Kos kaartjies wat voor-af gekoop word R220, maar as jy by die hek koop, kos dit R250? Of moet jy kaartjies vir R220 koop én op die dag by die hek R250 betaal?

Jaco ·

Dit moedig mense aan om eerder vooraf te koop sodat die organiseerders n idiee het vir hoeveel mense hul moet cater.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.