Soorte resepte:

Resep: Koringbier

Foto: Wenresepte 2

Foto: Wenresepte 2

Mev. Doreen Human van Krugersdorp vertel: “As kinders was ons baie gretig om by ouma Dorie op die plaas in die Strydenburg-distrik te gaan kuier. Ouma was ’n baaskok en aan lekkernye en heerlike koringbier in die somer het dit nooit ontbreek nie.”

Hier is die resep soos ouma Dorie dit gemaak het. Dit kan ’n onbeperkte hoeveelheid bier lewer omdat dit daagliks met vars bestanddele aangevul kan word.

Bestanddele:

  • 200 g (250 ml) heel koringkorrels
  • 1 liter lou water
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 7 ml kitsgis
  • paar stukkies heel gemmer, gekneus
  • paar rosyne met pitte

Daaglikse hernuwing:

  • 1 liter lou water
  • 200 g (250 ml) bruinsuiker
  • 5 ml kitsgis

Metode:

  1. Bedek die koring met koue water en laat dit oornag week. Dreineer dit die volgende oggend en spoel goed onder lopende koue water.
  2. Plaas die koring in ’n groot vrugtefles. Voeg die lou water, suiker, kitsgis, gemmer en rosyne by en roer tot die suiker gesmelt het. Sit die deksel lossies op en laat die mengsel 24 uur lank staan.
  3. Giet die bier ná 24 uur af in bottels en verkoel dit in die yskas. Giet hierna elke dag op dieselfde koring die lou water, suiker en kitsgis.
  4. Giet die bier ná elke 24 uur af. (Die gemmer en rosyne kan weekliks deur varses vervang word.) Die koring moet ná elke derde week deur geweekte vars korrels vervang word.

Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.