Ons vier al die hele week nasionale koffiedag – wat eintlik vandag, 29 September, is – met heerlike resepte en interessante artikels. As jy soggens nie tyd het om ʼn ordentlike koppie koffie te maak nie, sal hierdie resep jou lewe verander. Lani Snyman, uitvoerende beampte verantwoordelik vir kliëntediens by Ciro, het dié resep ontwikkel.
Hierdie konsentraat word gebruik om ʼn heerlike koppie koffie te maak – al wat jy moet doen is om kookwater by te voeg en siedaar – ʼn goeie koppie koffie in ʼn japtrap!
Bestanddele:
- 1 x 250 g House of Coffees VIP Gold gemaalde koffie
- 1 ℓ koue water
Metode:
- Gooi die hele pak gemaalde koffie in ʼn houer met ʼn deksel.
- Gooi die koue water direk op die koffie.
- Roer die koffiemengsel goed om te verseker dat die koffie deurnat is.
- Laat oornag (of vir ten minste agt ure) in die yskas.
- Neem filterpapier en gooi die koffiemengsel deur die papier.
- Hou die konsentraat in die yskas. Gebruik dit binne ʼn week.
- Gooi ʼn bietjie van die konsentraat (ongeveer 50ml) in ʼn koppie (so sterk as wat jy jou koffie verkies) en vul die koppie verder met kookwater.
Wenk:
- Verhit jou koppie eers met kookwater voordat jy die koffie in die koppie gooi – dit sal ʼn heerlike warm koppie boeretroos verseker. Lani raai ʼn mens af om jou koppie met die koffiekonsentraat daarin in die mikrogolfoond te verhit.
Oom Jan Spies se uitdrukking: Dit is nou Koffiekapitaal!!