Soorte resepte:

Video: Maak só ʼn perfekte koppie koffie

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

Elke deel van die koffiemaak-proses het ʼn invloed op hoe jou koffie uiteindelik proe: jou koffiemaler, die grofheid waarteen jy die koffie maal, jou keuse van koffiebone, die broumetode wat jy kies en selfs die water uit die kraan. Eksperimenteer met verskillende kombinasies tot jy die smaak kry waarvan jy die meeste hou.

  • Koop goeie bone. Vind by iemand met ʼn kennis van die koffiebedryf uit waar in jou omgewing jy goeie kwaliteit, onlangs geroosterde bone kan koop. Jy sal dikwels goeie kwaliteit koffiebone in pakke by ʼn koffiewinkel kan aankoop.
  • Gebruik vars gemaalde koffie. Die oomblik as jy jou koffie maal, begin dit oksideer, wat die verouderingsproses versnel. Gemaalde koffie moet gebruik word binne 15 minute nadat jy dit gemaal het.
  • Besluit hoe grof jy jou koffie wil maal. Die grootte van die gemaalde koffiepartikels bepaal hoe groot die oppervlak van die boon is wat aan water blootgestel word. Kleiner partikels het meer kontak met water, en meer koffiegeur word dus onttrek, terwyl groter partikels minder kontak met water het en dus minder van die koffie onttrek. As jy te veel van die koffie uit die gemaalde boon onttrek (indien die bone baie fyn gemaal is, of as die water te lank met die koffie in kontak is as gevolg van ʼn te stadige brouproses), kan die koffie bitter en kryterig proe (soos aspirien). As jy die bone te grof maal en dus te min koffie onttrek (of indien die water te kort met die gemaalde koffie in kontak is), sal die koffie ʼn suurder smaak sonder diepte hê. Eksperimenteer met verskillende verstellings op jou koffiemaler tot jy die smaak kry waarvan jy die meeste hou.
  • Die water wat jy gebruik, moet skoon en sonder enige nasmake Die ideale temperatuur vir die kookwater waarmee jy jou koffie maak, is 90 tot 95 °C.
  • As jy ʼn broumetode kies waartydens die koffie ʼn ruk in die water brou, soos met ʼn plonspot (“french press”) of Aeropress, roer die mengsel een of twee keer om gedurende die broutyd. Dit verseker dat die koffie egalig uit die koffiepartikels onttrek word, wat ʼn oor- of onderontwikkelde smaak kan voorkom.
  • Moenie koffie wat klaar gebrou is met die koffiemoer in op ʼn warm plaat laat staan Dit sal ooronttrekking van die koffie veroorsaak en bitter koffie tot gevolg hê.
  • Maak seker jou toerusting is silwerskoon. Was dit met warm water, nie met seep nie, en maak seker jy verwyder die natuurlike olies uit die bone wat in die toerusting agterbly.
  • Stoor koffiebone in ʼn lugdigte houer in ʼn kas.

Beïndruk jou medekampeerders só

Moeg vir jou perkoleerder? Hier is twee minder bekende, maar maklike metodes om ʼn lekker koppie koffie te maak sonder dat jy ʼn duur koffiemasjien nodig het – of jy nou tuis is, op kantoor koffie drink of kamp:

  • ʼn Mokka-pot is ʼn maklike manier om heerlike koffie te maak, of dit nou tuis op die stoof of op ʼn gasstofie of vuur is wanneer jy kamp. Koue water word in die onderste deel van die onooglike potjie gegooi, en gemaalde koffie kom dan in die metaaltregter wat bo-oor die water geplaas word. Wanneer die water onder in die potjie begin kook, bou stoom op, wat die water deur die tregter met die koffie dwing en dit in die boonste deel van die potjie uitstoot. Die druk in ʼn mokka-pot is omtrent 1 bar, teenoor die 9 bar waarteen ʼn espresso gemaak word. ʼn Mokka-pot gee jou dus ʼn billike koppie koffie, soortgelyk aan espresso, maar sonder die crema (skuimlagie) en met minder olie wat espresso gee.
  • ʼn Aeropress is selfs ʼn makliker manier om jou koffie met jou saam te neem oral waar jy gaan. Al wat jy nodig het, is kookwater en jou aeropress – ʼn onindrukwekkende plastiektoestelletjie wat uit twee buise en ʼn filter-gedeelte bestaan. Die koffie word in die plastiekbuis gegooi en kookwater word bygevoeg terwyl jy die mengsel stadig roer. Daarna laat jy dit vir ʼn paar minute staan voordat jy die aeropress met die hand afdruk om die koffie deur die papierfiltertjie te dwing tot in jou koppie. En daar het jy dit. Aeropress-koffie het ʼn sterk geur en vergelyk goed met espresso.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groot koffiedrinker ·

Baie interessante artikel. Miskien kan maroela se winkel suid afrikaanse koffie ook verkoop.

Reinhardt ·

Ek stem, daar is talle Suid-Afrikaanse koffie brouers in die Kaap. Vir my is dit baie toeganklik, maar ek vermoed die persoon op n plaas iewers in die Karoo is dit dalk nie so maklik nie.

Groot koffiedrinker ·

Ja, nie net het ons uitstekende koffieroosters in SA nie maar ons het selfs koffieboere soos in die laeveld. Dis net baie moeilik om hulle koffie in die hande te kry, wat jammer is want dit is baie lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.